Die ANC-jeugliga het berigte dat sy geskorsde leier Julius Malema ANC-leiers as “bobbejane” beskryf het, as ‘n vertaalfout afgemaak.
By ‘n samekoms in Bloemfontein as deel van die regerende party se eeufeesvieringe, het Malema glo dié beskrywing gebruik.
Malema is vroeër aangehaal deur die Saturday Star: “Die mense wat ons nie hier wil hê nie, hulle is bobbejane …. maar die bobbejane, hulle het nie geweet hoe ons te werk gaan nie – dat ons maniere kry om by ons mense uit te kom.”
“Die ANC-jeugligapresident het in Sepedi gepraat en die joernalis wat die storie geskryf het nie die vaagste benul van die taal wat die president gebruik het nie,” het woordvoerder Floyd Shivambu Saterdag in ‘n verklaring gesê.
“Sy het in plaas daarvan staatgemaak op ‘n slegte vertaling van ‘n omstander oor wat die president gesê het… Onder geen omstandighede het die ANC-jeugligapresident gesê ANC-leiers is bobbejane nie, en hy sou nooit so ‘n opmerking maak nie.”
“Die ANC-jeugliga eis ‘n onmiddellike terugtrekking deur die Saturday Star van al die bewerings en wanvoorstelling van wat die president gesê het,” het Shivambu gesê.
