Volgens Mugabe se woordvoerder, George Charamba, kon die Zimbabwiese leier nie die feesvieringe in Bloemfontein persoonlik bywoon nie.
Charamba het bevestig dat Mugabe na die eeufees genooi is, maar die leier is tans met verlof in die Verre Ooste.
Hy het aan die plaaslike dagblad The Herald gesê dat adjunk-pres. Joice Mujuru die Afrika-land se Zanu-PF-party sal verteenwoordig.
Die ANC het Woensdag bevestig dat Mugabe die naweek se vieringe sal bywoon.
Die president neem gewoonlik verlof van Desember tot die einde van Januarie, maar kan as gevolg van ‘n dekade-lange reisverbod nie na Westerse lande reis nie.
Die 87-jarige leier het in 2011 dikwels vir mediese toetse na Singapoer gereis. Hy word glo vir prostaatkanker behandel.
Intussen het die Zimbabwiese premier, Morgan Tsvangirai, gesê sy nasionale voorsitter, Lovemore Moyo, sal die MDC by die ANC se eeufees verteenwoordig.
