Polisie onderdruk geweld in Bloemfontein

Die polisie het vier mense weens openbare geweld in Botshabelo buite Bloemfontein in hegtenis geneem. Woedende betogers het die pad met swaar voorwerpe versper en gesê hulle moes al hulle pligte as reëlingsbeamptes vir die ANC se eeufeesvierings begin het.

Hulle sê Botshabelo-reëlingsbeamptes is uitgesluit van die lys van diegene wat by die feesvierings ontplooi is.

Die polisie het rubberkoeëls gebruik om die betogers op die N-8 tussen Botshabelo en Bloemfontein uiteen te jaag. ‘n Woordvoerder van die polisie, Vish Naidoo sê hulle het bykomende lede van die polisie ontplooi om die situasie te monitor.

Die Waarnemende Nasionale Polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê streng veiligheidsmaatreëls is getref vir die ANC se 100-jarige feesvieringe in Bloemfontein dié naweek.

Mkhwanazi sê hulle het meer as drieduisend lede ontplooi om misdaad in die Vrystaatse hoofstad te bekamp. Die polisie sal saam met die Weermag en ander staatsveiligheidsagentskappe werk om bedrywighede te monitor tydens die ANC se grootste viering sedert sy stigting 100 jaar gelede.

Hy het ook bevestig dat die lugruim bokant Bloemfontein tot aan die einde van die feesvieringe beperk sal word.

Intussen het die Amerikaanse burgerregte-leier, Jesse Jackson in die land aangekom vir die vieringe. Jackson sê die ANC het ‘n belangrike rol gespeel in die bevryding van Suid-Afrika.

Hy sê hy is bly hy kan die geleentheid meemaak en het die ANC aangemoedig om voort te gaan met sy taak in weerwil van die uitdagings.

topcargo отзыв

Maak 'n opvolg-bydrae