Dwelmsmokkelaar se as aan SA oorhandig

Die as van Janice Bronwyn Linden, wie Maandag in China tereggestel is, is aan ‘n Suid-Afrikaanse diplomaat oorhandig, het die departement van internasionale betrekkinge gesê.

“Haar as is aan ‘n Suid-Afrikaanse diplomaat gegee en sal na haar familie gaan,” het Clayson Monyela, woordvoerder, gesê.

Linden (35), van KwaZulu-Natal, is Maandag met ‘n dodelike inspuiting tereggestel vir dwelmsmokkelary.

Sy is in November 2008 in hegtenis geneem nadat sy met drie kilogram tik in haar bagasie betrap is. Sy is in 2009 skuldig bevind aan dwelmsmokkelary.

Monyela het gesê lede van Linden se familie was teenwoordig by die teregstelling.

“Ons het baie naby met die familie saamgewerk. Ons personeel in die ambassade is daar om die familie met berading by te staan,” het hy gesê.

Die departement het vroeër gesê President Jacob Zuma het probeer om in te gryp.

“Hy [Zuma] het ingegryp. Al die nodige stappe is op elke moontlike vlak geneem, selfs op die hoogste,” het Monyela gesê.

“Alles moes deur diplomatieke prosesse gebeur en daar is baie min wat daaraan gedoen kan word.”

Een van Linden se familielede het aan The Mercury-koerant gesê: “Ons het deur briewe met haar gekommunikeer. Sy het gesê sy weet nie hoe die dwelms in haar bagasie gekom het nie. Sy het geglo sy is valslik betrek.

“Haar vonnis is nie geregverdig nie. Hoe kan jy iemand se lewe neem vir drie kilogram se tik?”

‘n Korrespondent van eNews in Asië het gesê haar teregstelling kon tot ‘n lewenslange vonnis versag word indien sy skuld beken het, maar sy het volgehou sy is onskuldig.

Monyela het gesê die departement kan nie op dié berig kommentaar lewer nie omdat hulle nie bewus is van die Chinese regering se redes waarom hulle die teregstelling deurgevoer het nie. Die teregstelling sal nie ‘n impak op Suid-Afrika se handelverhouding met China hê nie, het hy gesê.

топкарго отзыв

Maak 'n opvolg-bydrae