Jeff Radebe, minister van justisie, het intussen gesê bewerings wat verlede week in ‘n onderhoud deur Heath gemaak is word ondersoek.
Heath het ‘n week gelede in ‘n onderhoud met die Sondagblad City Press Mbeki daarvan beskuldig dat hy die bal aan die rol gesit het met betrekking tot die verkragting- en korrupsieklag teen Zuma in die aanloop tot die Polokwane-leierstryd in 2007. Mbeki het dié bewerings ontken.
Die voormalige regter het as Zuma se regsadviseur opgetree toe die president tereggestaan het op aanklagte van verkragting en korrupsie.
Zuma het homself van Heath se bewerings gedistansieer.
Heath se kommentaar het ook Bulelani Ngcuka, die voormalige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging gegrief.
Die Sunday Times, het Sondag ‘n “ope brief” van Ngcuka aan Heath geplaas waarin hy sê die bewerings wat gemaak is, is “baie ernstig”.
Heath het sy pos as hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid in 2000 verloor nadat die Grondwethof beslis het dat ‘n sittende regter nie so ‘n eenheid kan lei nie.
Hy het toe by Mbeki vir vroeë aftrede aansoek gedoen, maar die voormalige president het hom afgekeur, en hy het winsgewende voordele soos ‘n lewenslange salaris as gevolg daarvan verloor.
