Geweld het in dele van die Demokratiese Republiek van die Kongo en in die buiteland uitgebreek en diplomate skarrel om die spanning te ontlont voor dié land se verkiesingsuitslae bekendgemaak word, het RSG berig.
Die DRK se verkiesingskommissie het die aankondiging van die wenner van die land se presidensiële verkiesing van November 28 uitgestel.
Dit beteken dat resultate waarskynlik eers ná Donderdag aangekondig sal word, het amptenare gesê.
“Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is nie in ‘n posisie om die finale uitslag te publiseer [Dinsdag] nie,” sê die kommissie in ‘n boodskap wat verskyn op staatsuitsaaier RTNC.
Intussen, het geweld ook opgevlam in Londen en Toronto oor die land se verkiesings.
Honderde betogers wat gekant is teen president Joseph Kabila het met die Britse polisie gebots toe hulle buite die woning van premier David Cameron betoog het.
Sowat 300 betogers het slagspreuke gedreunsing en plakkate rondgeswaai met “Kabila Out” maar is deur minstens 50 polisielede teruggedryf, sê ‘n AFP-verslaggewer wat op die toneel in Downingstraat was.
Betogers is glo in die gevegte beseer en het op die grond gelê waar hulle deur die polisie se mediese personeel versorg is. Twee ander is in hegtenis geneem.
Een van die betogers in Londen, Jason Kabuta, in sy 20’s, het aan AFP gesê: “Ons wil hê dat Kabila moet gaan. Daar is ‘n volksmoord in ons land..
“Die Westerse lande is sy ondersteuning en dit is waarom ons buite Downingstraat ‘n oproep aan David Cameron rig om te stop.
“Die Westerse lande wil Kabila ondersteun omdat hulle ons hulpbronne sodoende kan steel,” sê Kabuta, wat reeds in Brittanje sedert die ouderdom van nege woonagtig is.
Spanning het ook oor die Atlantiese Oseaan uitgebreek toe ‘n pro-demokratiese protes in Kanada se grootste stad gewelddadig geraak het.
‘n Polisiemotor is deur ‘n groep van 150 betogers in die sentrum van Toronto oorweldig en vullis is na beamptes gegooi, waarna die polisie ‘n noodradio-oproep vir bystand moes doen.
Meer as 30 polisiemotors het gereageer en paaie rondom die protes is afgesper.
Toronto se polisiewoordvoerder Wendy Drummond het aan AFP gesê die protes “het vreedsaam begin” in die oggend op die grasperk van die Ontario-wetgewer.
Maar “iets het verander in die skare” toe hulle later na die Amerikaanse konsulaat opruk.
Praag het met uitgeweke Kongolese in Johannesburg gepraat wat ook hulle teenkanting teen Kabila uitgespreek het. Volgens hulle maak Kabila-ondersteuners eenvoudig hulle opponente voor die voet dood en moet Suid-Afrika ingryp om die slagting te keer.
Die Verenigde Nasies het intussen ‘n gesant gestuur om met pres. Jospeh Kabila en Etienne Tshisekedi, sy naaste teenstaander, te vergader.
Met sowat 68% van die stemme getel, het Kabila ‘n voorsprong van 10% bo Tshisekedi.
Die opposisie het reeds aangedui dat hy die uitslag van die verkiesing gaan verwerp weens gerugte dat die verkiesing op 28 November ongeldig is agv wanbestuur en bedrog.
Ten minste 18 mense is tydens verkiesingsgeweld dood, volgens Human Rights Watch, ‘n internasionale menseregtegroep. ‘n Senior lid van Kabila se party het gesê die regering sal die weermag moet ontplooi as protesaksies “té chaoties” raak.
