President Jacob Zuma het die Regterpresident in die Vrystaatse Hooggeregshof, Hendrick Musi, as ‘n lid van die kommissie van ondersoek na die wapenskandaal aangewys.
Die presidensie het Dinsdag in ‘n verklaring gesê dié skuif kom nadat Regter Willem van der Merwe aangedui het dat hy weens persoonlike redes nie in die kommissie sal kan dien nie.
Zuma het die kommissie van ondersoek na die wapenskandaal op 24 Oktober aangekondig.
Die kommissie sal bewerings van onder meer bedrog, korrupsie en ongerymdhede in die wapenskandaal ondersoek.
Regter Willie Seriti, van die appèlhof, sal die voorsitter van die kommissie wees.
Hy sal bygestaan word deur Musi en Regter Francis Legodi van die Hooggeregshof in Pretoria.
