Die Verenigde Nasies se klimaatsberaad, COP17, begin vandag in Durban te midde van talle oproepe dat groot besoedelende lande moet instem tot samewerking om ‘n wettige en bindende ooreenkoms te sluit om koolstofvrystelling teen 2015 te verminder.
Leiers van die Europese Unie het gister aangedui dat hulle gewillig is om hulle verbintenis tot die Kioto-protokol verder te neem as sy spertyd, einde aanstaande jaar.
Hulle het gewaarsku dat dit nie sin sal maak om dit te doen, indien Rusland, Kanada en Japan nie ook daartoe instem nie. Die EU hoop dat Durban die beginpunt kan wees tot ‘n wettige en bindende ooreenkoms.
Greenpeace sê intussen dit is tyd dat regerings ophou luister na korporasies wat baie besoedeling veroorsaak, en eerder aandag gee aan die pleidooie van arm mense.
