Lindiwe Mazibuko, wat Sondagaand die gas op Lynette Francis se geselsprogram Fokus op SABC2 was, sê swart armoede tans is die gevolg van apartheid.
Mazibuko is die omstrede nuutverkose parlementêre leier van die DA.
Gesoute DA-lede het haar aanstelling vroeër gekritiseer en as die party se rassekaart beskryf om swart lede te werf. Hulle het Zille daarvan beskuldig dat sy Mazibuko vanweë haar velkleur voorgestoot het en nie weens haar bekwaamheid nie.
Mazibuko het in vlot Engels, met ‘n wit aksent, dit weer beklemtoon dat swart armoede wat tans heers uitsluitlik die gevolg van apartheid is, en dat die party transformasie sal nastreef.
Sy het ook gesê sy wil die party saamsnoer om beter dienslewering te verseker.
Op ‘n vraag of die verskille binne die party oor haar aanstelling steeds aanwesig is, het sy gesê die party ondersteun haar en aanvaar die beslissing van die demokratiese meerderheid.
Sy het het haar nie uitgelaat oor die Midvaalkorrupsieskandaal waarby die DA betrokke is nie en ook nie op die nuutste omstrede uitlatings van Zille dat manlike Vigslyers tronkstraf opgelê behoort te word vir onbeskermde seks nie.
Zille het intussen probeer ontken dat sy die stelling gemaak het wat baie ongewild by haar swart kiesers is, en deur grondwetkenners as ongrondwetlik beskryf is.
Zille het teruggekrabbel en gesê Suid-Afrikaners moet hulle seksuele gedrag verander en aanspreeklikheid daarvoor aanvaar, om die verspreiding van die MI-virus te voorkom.
Ontleders meen Zille het die Vigs-uitlatings gemaak om die fokus van die DA se korrupte bedrywighede in Midvaal af te neem.
