Die luitenant-kolonel en twee reserviste is geskors nadat hulle tydens ‘n interne dissiplinêre proses skuldig bevind is op aanklag van wangedrag, het sers. Teboho Lephoto gesê.
Thomas Mahlobogoane het gesê hy het in Junie huis toe gery toe hy deur twee polisiemanne en ‘n polisievrou afgetrek is. Hulle het aan hom gesê sy motor se ligte is af.
“Hulle het my gevra hoekom my hoofligte afgeskakel is. Ek het aan hulle gesê hulle is verkeerd, my ligte was aangeskakel. Een van hulle het my hande geboei en toe het alle hel losgebars.”
“Ek was weerloos met my hande wat agter my vasgeboei was. Hulle het my gevloek, geskop en geslaan. Hulle het my selfs ‘n k–r genoem,” het Mahlobogoane gesê.
Een van die polisiebeamptes het Mahlobogoane se motor tydens die aanval deursoek en sy besigheidskaartjies gevind.
“Hy het my gevra of ek ‘n prokureur is. Hy het toe probeer om verskoning vra en gesê ek moet aan die dokter wat my gaan ondersoek, sê ek het op die grond geval.”
Die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) ondersoek die saak.
