“Hulle het hulle eie geskiedenis vergeet. Hulle het vergeet wat hulle eie profete oor ons God gesê het,” het Tutu in sy openingsrede aan die Internasionale Russell-tribunaal oor Palestina gesê.
“Ons aanbid ‘n God wat van nature omsien na die wat ly, die wat onder is, die wat swaarkry… God is altyd aan die kant van die wat onderdruk word. In die Heilige Land is die Palestynse mense die mense wat ly.”
Tutu het gesê dit hinder hom dat ‘n groep mense wat self gely het, nou vir ander lyding kan veroorsaak.
“Daar is groot lyding wat verhoed kan word, wat veroorsaak word deur mense wat self soveel gely het… wat deur ‘n dal van lyding gegaan het.
“Dié van ons wat Christene is, is baie sterk beïnvloed deur wat ‘n mens die Joodse skrif kan noem. Die God met sy voorkeure in die verlede is die God met sy voorkeure in die hede… en as God, God is, wees op die uitkyk,” het hy bygevoeg.
“Dít is die smart wat ek in my dra.” Tutu, wat deel was van die wêreldwye Genoomprojek, het ook onlangs uitgevind dat hy San-voorouers het.
Die Russell-tribunaal is ‘n internasionale forum wat daarop gemik is om vrede in die Midde-Ooste te bevorder.
Vavi, wat saam met Winnie Madikizela-Mandela deelgeneem het aan die tribunaal, het gesê Cosatu is trots om die geleentheid te borg.
“Cosatu sal verbind bly tot die gebruik van die werkers se geld om te verseker dat die welsyn en geregtigheid vir alle mense in die wêreld beskikbaar bly, net soos ons ondersteuning ontvang van mense in ander lande,” het hy gesê.
Vavi het gesê hy is geroer deur die getuienisse van die tribunaal en het die Palestyne se lot beskryf as “erger as apartheid”.
Soortgelyke sessies is verlede jaar in Barcelona en Londen gehou, en die finale sessie sal volgende jaar in New York gehou word.
Die lede op die paneel het ingesluit die skrywer Alice Walker, ‘n 93-jaar-oue oorlewende van die Holocaust Stephane Hessel en Ronnie Kasrils, ‘n voormalige kabinetsminister.
