Mbeki het in ‘n toespraak voor die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies in Sun City gesê dit “lyk voor die hand liggend” dat ‘n paar magtige lande die nasionale oorgangsraad gebruik om hulle eie selfsugtige belange na te jaag.
Dié lande is volgens hom daarop uit om die beginsel van selfbeskikking te ondermyn. Hy het president Barack Obama van die VSA, Britse premier David Cameron en Franse president Nicolas Sarkozy uitgesonder as die sondebokke agter NAVO.
“Ek moet dit kategories stel dat diegene wat ‘n bepaalde uitkoms probeer voortbring uit die konflik in Libië met ‘n giftige bedrogspul besig is wat daarop gemik is om Afrika en die Afrika-Unie se opposisie teen die debakel in Libië te ondermyn.”
Hy het gesê dis gedoen op grond van die idee dat die Afrika-unie en die res “van ons deur kol. Gaddafi met petro-dollars gekoop is”, en dus gedwonge gevoel het om sy regime te ondersteun.
Hy het gesê verskeie leuens is gebruik om dié idee te propageer – insluitende gerugte dat Gaddafi en Libië die ANC ondersteun het gedurende die stryd teen apartheid.
“Die feit is dat Libië gedurende hierdie periode nie ‘n enkele sent aan die ANC gegee het nie, en dat hy nie eens een van ons militêre vegters opgelei het nie, en dat hy ons nie eens van ‘n enkele koeël voorsien het nie.
“Dit is omdat Gaddafi se Libië besluit het dat die ANC nie veel meer as ‘n instrument van Sionistiese Israel is nie, omdat ons sulke uitstaande patriotte onder ons leiers gehad het soos die afgestorwe Joe Slovo.”
Mbeki het gesê Libië se ondersteuning van die ANC het eers ná 1990 gekom, toe die besef deurgedring het dat die ANC werklik die meerderheid Suid-Afrikaners verteenwoordig het.
Mbeki het ook bewerings dat die Afrika-Unie op Libiese fondse vir sy voortbestaan staatmaak, as onwaar beskryf.
Hy het gepraat oor die onderwerp van internasionale reg en die toekoms van Afrika. Hy het gewaarsku teen pogings van wêreldmagte om Afrika te her-koloniseer.
Mbeki het die Veiligheidsraad gekritiseer as ‘n instrument wat gebruik word om Afrika te onderwyn. Hy het gesê hulle optrede is strydig met die reg op selfbeskikking en internasionale reg.
“Dit is ooglopend dat ‘n paar magtige lande probeer om die Veiligheidsraad as instrument in hul hande aan te wend om hul eie selfsugtige belange na te jaag, vasbeslote om op te tree volgens die beginsel en uitvoering dat ‘mag reg is’,” het hy gesê.
Zuma se voorganger het regsgeleerdes aangespoor om hulle “besonderse talente” te gebruik om Afrika se politieke status en ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling” te beskerm en te verdedig.
