Die party wat hoog opgee oor skoon regering, die DA, het klaarblyklik self ‘n hele paar geraamtes in die kas. Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se span is betrokke by ‘n uitgebreide korrupsie-ondersoek teen die DA, berig Rapport.
Die VF+ beskuldig die DA al geruime tyd van ‘n erge geknoeiery in die Midvaal-munisipaliteit, die enigste ander munisipaliteit behalwe Kaapstad, wat onder beheer van die DA is.
Sedert die verkiesing van Corrie Peyper as VF raadslid in Midvaal op 18 Mei 2011 is die aksie verskerp. Die VF-raadslid in Midvaal word intussen deur die DA raad geteister en geïntimideer, sê die VF+ se provinsiale leier, Jaco Mulder.
Die DA het in die 2009 en 2011 by monde van veral Helen Zille telkens verwys na die DA beheerde raad van Midvaal se “skoon administrasie” en kiesers mislei. Die DA is nie die “skoon” alternatief wat veral Afrikaner kiesers dink dit is nie, sê Mulder.
“Die DA en ANC is twee teenkante van dieselfde munt,” het Mulder gesê. “Helen Zille, James Selfe en Ryan Coetzee is gevolglik medepligtig aan hierdie korrupsie omdat dit deurgans onder hul aandag gebring is, en hulle versuim het om daarteen op te tree.”
Helen Zille het enkele weke gelede in die Volksblad gesê dat sy Kobus Hoffman nie ken nie, terwyl die korrupsie in Januarie 2009 deur Hoffman persoonlik onder haar aandag gebring is.
“James Selfe het in die media gesê dat hy nie skrik vir die ongegronde aantygings nie en die DA in Gauteng ontken die bestaan van korrupsie in Midvaal deurgaans teenoor my”, het Mulder voortgegaan.
“Helen Zille is ‘n ongeloofwaardige leier, mislei haar eie ondersteuners asook die publiek en behoort te bedank as openbaar-verkose amptenaar,” volgens Mulder.
Die openbare beskermer (OB) sal Dinsdag die opspraakwekkende verslag bekendmaak oor wanbestuur en ongerymdhede in die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit.
Kgalalelo Masibi, OB-woordvoerder, het bevestig die verslag word Dinsdag bekend gemaak.
Die beweringe van wanbestuur wat reeds in Januarie 2009 onthul is, het gelei tot die skorsing van fluitjieblaser Kobus Hoffman (29), DA-raadslid.
Hoffman het in Augustus ‘n klagte van korrupsie en regsverydeling by die polisie ingedien teen onder andere Helen Zille, DA-leier, Timothy Nast, Midvaal-burgemeester, en verskeie DA-LP’s.
Volgens Hoffman was Zille ingelig oor die korrupsie en het sy steeds niks daaraan gedoen nie.
Nast, destydse speaker en nou burgemeester van Midvaal, het tydens ‘n interne ondersoek wat in Desember 2008 afgehandel is, bevind dat geen ongerymdhede plaasgevind het nie.
‘n Klagte van bedrog en korrupsie is in Maart 2009 by die polisie ingedien teen die munisipaliteit se topbestuur. Die OB en Prokureursorde is gevra om ondersoek in te stel.
James Selfe, voorsitter van die DA se uitvoerende federale raad, het in ‘n verklaring gesê die burgemeester en raad van Midvaal het “vrywillig en volledig” met die OB en die SOE saamgewerk.
Rapport het vertroulik verneem die OB-verslag uitgebreide wanbestuur sal uitwys.
Volgens Rapport is Odendaal se regsfirma, Odendaal en Summerton Inc (OSI), sedert 2000 herhaaldelik op ‘n “onregverdige en onetiese” wyse aangestel.
Odendaal tree op as die raad se prokureur en daarbenewens is OSI verantwoordelik vir alle regsadvies, skuldinvorderings en arbeidsake.
Die OB het glo onder meer bevind dat OSI ‘n onregverdige voordeel oor ander voornemende diensverskaffers gehad het danksy Odendaal se toegang tot inligting en invloed oor tenderprosesse, skryf die koerant.
Daar was glo ook onreëlmatighede met 85 eiendomme wat die munisipaliteit vanweë agterstallige rekeninge oorgeneem het.
Odendaal het glo in een geval ‘n erf in Henley-on-Klip in 2003 aan die munisipaliteit gegee in ruil vir skuld van sowat R5 240. Dit is daarna deur een van Odendaal se ander maatskappye, Meyerton Opspoorders, teen R10 000 gekoop en later verkoop vir R180 000.
Daar is ook ander ongerymdhede wat aan die lig gekom het met werknemers van die munisipaliteit. Twee kontrakte ter waarde van R50 miljoen is glo verdag en ‘n strafregtelike saak oor een van die kontrakte is aanhangig gemaak.
Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se woordvoerder, het gesê hulle behoort teen einde volgende jaar klaar te wees. Hulle sal waarskynlik hulself tot die polisie en nasionale vervolgingsgesag (NVG) wend om strafregtelike klagtes aanhangig te maak waar nodig.
Timothy Nast, burgemeester, wat om kommentaar genader is deur Rapport, wou nie reageer nie.
