‘n Elfjarige seun is na bewering om die beurt deur vier ander seuns by ‘n skool in Eldorado Park, ‘n hoofsaaklik bruin gebied suid van Johannesburg, verkrag, het die polisie Woensdag gesê.
Die seun ontvang berading van maatskaplike werkers terwyl ‘n saak van verkragting ondersoek word, het kapt. Phil Khorombi gesê.
Volgens hom het die verkragting Vrydagoggend op die skoolterrein plaasgevind.
“In hierdie stadium kan ons nie veel meer besonderhede oor die saak bekend maak nie,” het hy gesê.
Die Gautengse onderwysdepartement het ook sy eie ondersoek na die gebeure geloods, het Charles Phahlane, woordvoerder, gesê.
“Die gebeure het ons geskok en ons beskou dit in ‘n ernstige lig,” het hy gesê.
Phahlane het nie die naam van die skool bekend gemaak nie.
