Onverstoord deur neerhalende uitsprake en grappies op sosiale netwerk-webwerwe, sê Mshoza (ook bekend as Nomasonto Mnisi) sy het hard gewerk om die lewe wat sy nou lei, te kan bekostig.
“Ek verstaan nie hoekom mense nou ‘n probleem het dat ek met my geld doen wat ek wil nie. Dit is my lewe.
“Miskien moet hulle begin lewe in plaas daarvan om uit ‘n bak van negatiwiteit te eet al die tyd,” het sy gesê.
Volgens die sanger, wat reeds honderde duisende op rhinoplastie [vir haar neus], ‘n borsmaatvergroting en maagvetverwydering, spandeer het, is haar voorkoms waaraan sy miljoene bestee, net die begin van ‘n lang en ingewikkelde proses.
“Ek sien tans drie velspesialiste. Hulle het die eerste fase voltooi. Ek lyk nie regtig op die oomblik bleek nie. Maar ja, wanneer alles voltooi is, sal ek lyk soos ‘n wit persoon. Van kop tot tone. Ek kan ook die rhinoplastie oordoen om my nuwe vel te pas. Maar dit beteken nie dat ek popmusiek sal begin sing of anders optree nie.
“Ek sal nog steeds dieselfde persoon bly wat my ondersteuners ken.”
Die sanger, algemeen bekend vir haar liedjie Kortez, het gesê sy weet nie wanneer die hele proses voltooi gaan wees nie.
Die ma van twee het aan die lig gebring dat die redes agter haar besluit om haar velkleur te verander vir haar ‘n teer onderwerp is.
Gevra of sy ontevrede is met die manier waarop sy gebore is, het ‘n selfversekerde Mshoza egter geantwoord: “Ek het nie ‘n probleem met die manier waarop God my geskape het nie. Om die waarheid te sê is ek lief vir Hom. Ek bid die hele tyd.
“Ek doen maar net waarvan ek hou. Dieselfde mense wat kritiek oor my uitspreek, het vals hare, naels en wimpers.
“Ek het baie oproepe ontvang van mense wat sê hulle wil graag dieselfde ding doen.” Haar man en kinders hou ook van die gedagte, sê sy.
Intussen het ‘n paar Twitter-gebruikers so ver gegaan as om te sê dat Mshoza wit massas wil werf vir die Demokratiese Alliansie.
