Amerikaanse wetgewers het gedreig om die sowat $80 miljoen te weerhou in jaarlikse befondsing aan UNESCO indien hulle Palestynse lidmaatskap goedkeur. Die Verenigde State dra ongeveer 22% van UNESCO se befondsing by.
Groot blydskap heers by UNESCO nadat afgevaardigdes die lidmaatskap in ‘n stemming van 107-14, met 52 wat buite stemming gebly het, aanvaar het.
“Lank lewe Palestina!” het een afgevaardigde, in Frans, by die buitengewoon gespanne en dramatiese vergadering van UNESCO se Algemene Konferensie, geskree.
Terwyl die stemming ‘n groot simboliese betekenis dra, bly die kwessie van die grense van ‘n uiteindelike Palestynse staat, sekuriteitsprobleme en ander geskille steeds onopgelos.
Palestynse amptenare wil volle lidmaatskap van die Verenigde Nasies verkry, maar die poging is steeds onder hersiening en die VSA het gesê hulle sal dit veto tensy daar ‘n vredesooreenkoms met Israel bereik word. Die Palestyne het dus afsonderlik vir lidmaatskap by die Parys-gebaseerde UNESCO en ander VN-liggame aansoek gedoen.
Maandag se stem is beslissend. Die lidmaatskap neem formeel in aanvang wanneer Palestina UNESCO se stigtingshandves onderteken.
Die Amerikaanse ambassadeur vir UNESCO, David Killion, het gesê Maandag se stem “kompliseer” Amerikaanse pogings om die agentskap te ondersteun. Die Verenigde State het teen die maatreël gestem.
Israel se ambassadeur te UNESCO, Nimrod Barkan, het die stemming ‘n tragedie genoem.
“UNESCO handel in die wetenskap, nie wetenskapfiksie nie,” het hy gesê. “Hulle het UNESCO gedwing om standpunt oor ‘n politieke onderwerp in te neem, buite sy bevoegdheid.”
“Hulle het ‘n drastiese besnoeiing van bydraes tot die organisasie afgedwing,” het hy gesê.
Amerikaanse buitelandse minister Hillary Rodham Clinton het verlede week die beraadslaging van UNESCO as “onverklaarbaar” beskryf en gesê die bespreking van Palestynse lidmaatskap in internasionale organisasies kan nie onderhandeling met Israel vervang as ‘n vinnige roete na Palestynse onafhanklikheid nie.
