“Die nasionale kommissaris van polisie, genl. Bheki Cele, neem kennis van en respekteer die president se besluit. Hy is besonder vol vertroue dat hy die beskuldigings van die opkomende ondersoek geheel en al sal kan weerlê,” het sy woordvoerder, Nonkululeko Mbatha, in ‘n verklaring gesê.
Sy skorsing kom nadat die openbare beskermer, Thuli Madonsela, bevind het Cele se verkryging van twee huurkontrakte vir nuwe polisie-hoofkwartiere in Pretoria en Durban was onwettig en kom neer op wanadministrasie. Die huurkontrakte was ter waarde van R1,6 miljard.
Genl. Nhlanhla Mkhwanazi sal in Cele se pos waarneem.
Zuma se aankondiging het gekom ná weke van spekulasie oor Cele se toekoms, insluitende ‘n nuusberig dat hy moontlik ‘n diplomatieke pos in Kanada aangebied sou word.
