Daardie Hugenote-van van die skeidsregter in die Wêreldbeker-rugbytoernooi-eindstryd, het hom nou probleme op die hals gehaal.
Franse voel oor Craig Joubert soos Bokondersteuners oor Bryce Lawrence se skokkende partydigheid in die halfeindstryd tussen die Springbokke en die Wallabies voel.
Die Franse het Joubert se Wikipedia-profiel ‘n bietjie aangepas nadat die Hane die eindstryd teen die All Blacks met ‘n skamele puntjie verloor het, 7 – 8.
Ontstoke Franse het op sy Wikiprofiel geskryf dat sy beslissings ‘n “verneukery” teen die Franse was.
“Hy het nie foute [deur die All Blacks] raakgesien nie. Hy was ongetwyfeld bevooroordeeld.”
Onderaan is ‘n afskeidsgroet bygevoeg wat lui: “VOLEUUUUUUUUUUUUUUUUUR” oftewel “dief”.
Die “verraaier” Joubert het Richie McCaw, die All Blacks se kaptein, doodgewoon met moord laat wegkom.
McCaw het daarbenewens, soos ‘n ware ploert, nie eens na sy moedige teenstanders in sy toespraak ná afloop van die wedstryd verwys nie.
Die Franse het uitstekend gespeel. Ná drie Wêreldbekertoernooie as die gunstelinge sonder sukses, was dit egter seker tyd dat die swart tuisspan beloon word.
Die Franse moes ag geslaan het op die skeidsregter se naam, en nie sy Franse van nie.
