Die Minister van Sport, Fikile Mbalula, sal na verwagting vandag sy stem dik maak oor die bestuursliggame van krieket en sokker wanneer hy sy jaarverslag aan die Parlement se Portefeuljekomitee oor Sport in Kaapstad voorlê.
Sy woordvoerder sê die twee kwessies sal deel wees van die verslag. Mbalula het oor die naweek uitgevaar teen Krieket Suid-Afrika nadat sy raad sy president, Mtutuzeli Nyoka, afgedank het wat hom oor beweerde korrupsie uitgelaat het.
Hy het ook die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging bygekom oor die onlangse debakel oor reëls wat daartoe gelei het dat die nasionale sokkerspan nie vir die Afrikabeker Nasiestoernooi gekwalifiseer het nie.
