Die Amerikaanse weermag gaan 100 spesialislede van sy elite-eenheid, die Green Berets, na die noorde van Oeganda ontplooi. Dié spesialissoldate sal ‘n militêre veldtog van stapel stuur om Joseph Kony, en sy Lord’s Resistance Army (LRA) te elimineer.
Kony word gesoek sedert ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname deur die Internasionale Strafhof in 2008 uitgereik is.
Die regering van Oeganda het glo die versoek aan die VSA gerig om teen Kony op te tree. Die Afrika-Unie is ook ingelig oor die besluit.
Die mislukte Amerikaanse aanval op Somaliese rebelle in Mogadisjoe in 1993 was die laaste keer dat Amerikaanse troepe amptelik op Afrika-bodem ontplooi is.
Kony se magte is glo in beheer van groot dele van die noorde van Oeganda, Suid-Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo en die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Hy word deur Soedan befonds.
Die voorhoede van die Amerikaanse gevegseenheid het Maandag in Oeganda geland en staan onder bevel van die VSA se Afrika-kommandement bekend as Africom.
Africom word uit Stuttgart, Duitsland, beheer.
Pres. Zuma het hom voorheen uitgespreek teen buitelandse betrokkenheid op die kontinent in konflikte en gesê oorlog striem ontwikkeling op die vasteland.
Museveni het Sondag gesê dat dit verkeerd is om te sê dat Amerika troepe stuur om teen die LRA en sy leier, Joseph Kony, te kom veg.
“Dit is beter om hulle Amerikaanse personeel te noem in plaas van troepe,” het hy gesê.
Die Amerikaners sal help om inligting in te samel, het hy gesê.
“Wanneer hulle troepe genoem word, klink dit of hulle namens ons kom veg.”
“Ons sal dit nooit toelaat dat troepe namens ons kom veg nie. Ek sal nooit aanvaar dat buitelandse troepe vir ons kom veg nie. Ons het die kapasiteit om ons eie gevegte te veg,” het Museveni gesê.
