Belhar-belydenis gaan blankes verder verdeel

Een van die basiese beginsels van tradisionele Christene is hul geloof in die Bybel as openbaring van die God waarin hulle glo. Die Bybel verskaf sekere riglyne aan mense en word verskillend deur verskillende mense geïnterpreteer. Die drie Afrikaanse susterskerke het sekere geloofsbelydenisse wat deur belydende lidmate onderskryf word en wat gebaseer is op ‘n sekere verstaan van die Bybel. Riglyne wat gebaseer is op die belydenisse, het betrekking op die verhoudings tussen God en mens, man en vrou, die eiendom van ander mense, hoe verkeerd dit is om vir andere te lieg, ens. Wat die blanke Afrikaanssprekende mense se situasie op ‘n manier onderskei van dié van die meeste ander mense, is dat húlle as minderheidsgroep vir baie jare die meeste ander mense binne die land uitgesluit het van basiese politieke besluitneming. Die riglyne wat na bewering vanaf God, die Bybel en die kerke se geloofsbelydenisse afkomstig was, het ook heelwat verskil tussen dít wat vóór 1985 gegeld het en dít wat agterna gangbaar was. Baie blanke Afrikaners wonder deesdae waarom hierdie riglyne dan so verskillend deur verskillende kerkleiers en ander Christene oorgedra is.

Toe vroeëre Afrikaanse kerkleiers met die vraag gekonfronteer is oor die korrekte verhouding tussen verskillende bevolkingsgroepe, het hulle dikwels geantwoord dat dit nié kerkleiers se verantwoordelikheid is om politieke uitsprake te maak nie. Kerke moes dus volgens hulle, rigting verskaf aan hul lidmate i.v.m. minder lewensbelangrike aspekte soos ongetroude paartjies wat saamwoon, homoseksualiteit en pornografie, terwyl dit nié kerkleiers se verantwoordelik is om leiding te verskaf aangaande sake wat vir baie lidmate belangriker is nie! Sommige kerkleiers het egter in die openbaar anti-apartheidsuitsprake gemaak, terwyl andere weer die ou Nasionale Party-regering se beleid ondersteun het. Hierdie skynheiligheid en deurmekaarspul het op die ou end baie blanke Afrikaners vervreem van ‘n godsdiens wat na bewering van God afkomstig was, maar wat nie aan hulle duidelike riglyne kon verskaf aangaande dit wat op die ou end hulle en hul kinders se toekoms bepaal het nie.

Terwyl baie hedendaagse kerkleiers daarop aandring dat apartheid onbybels is en dat die kerke die “sonde” van apartheid behoort te bely, is daar egter nêrens in die Bybel, óf in enige van die Afrikaanse susterkerke se (ou) geloofsbelydenisse, ‘n duidelike riglyn wat daarop dui dat die volledige geografiese skeiding tussen verskillende bevolkingsgroepe immoreel, sondig, ketters of onbybels is nie. Daar is byvoorbeeld nêrens in enige van hierdie genoemde dokumente (behalwe natuurlik die Belhar-belydenis!) iets soortgelyks aan die volgende stelling nie:

Enige land waarbinne slégs mense van ‘n sekere bevolkingsgroep (byvoorbeeld blankes) woon, waarvan die regering slegs bestaan uit mense van daardie bevolkingsgroep en verkies word deur slegs lede van daardie bevolkingsgroep, is immoreel en sondig in die oë van God.

As gevolg van die gebrek aan so ‘n duidelike riglyn, was daar heelwat Christene wat vir baie jare segregasie (sogenaamde klein apartheid) ondersteun het, en is daar tans nog stééds blanke politieke partye soos byvoorbeeld die HNP en Afrikaner Volksparty, wat hulleself as beide Calviniste én ondersteuners van apartheid beskou. Ons moet ook in gedagte hou dat daar aaklige rassistiese gedeeltes is wat veral in die Ou Testament voorkom, wat deur regse ekstremiste vir politieke doeleindes misbruik is.

Uit die voorgaande is dit duidelik dat nóg die kerkleiers, nóg die Bybel, vir baie jare duidelike riglyne aan mense verskaf het met betrekking tot die korrekte maniere van optrede teenoor mense wat aan ‘n ander bevolkingsgroep behoort. Dit is ongelukkig ook so dat verkeerde optredes teenoor mense van ander bevolkingsgroepe die hoofoorsaak is van die hedendaagse gespanne verhoudings tussen Suid-Afrikaners. Dit is dié morele kwessie waarvoor die georganiseerde Christendom geen duidelike antwoord gehad het nie. Die Belhar-belydenis bestaan uit vyf artikels waarvan sekere gedeeltes verwys na spesifieke dogmas van kerke oor o.a. God Drie-Enig. Sekere gedeeltes verwys na Bybelverse waarop dit gebaseer is. Gedeeltes wat verwys na spesifieke politieke en maatskaplike aangeleenthede, het egter geen ooreenstemmende Bybelverse waarop dit gebaseer is nie. Die opstellers van die belydenis kon blykbaar geen “Bybelversie” in die hande kry om hierdie gedeelte wat verwys na die sogenaamde sondige geskeidenheid van mense (apartheid is ‘n sonde?) te regverdig nie:

“Daarom verwerp ons enige leer wat óf die natuurlike verskeidenheid óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot ‘n aparte kerkformasie;”

Dit wil voorkom asof die onlangse besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk deel is van een of ander politieke speletjie. Hulle het gepoog om die meer behoudende besluite af te wissel met meer “liberale” besluite. Voorbeelde van behoudende besluite was die diskriminerende besluit teenoor gays waarvolgens slegs monogame huwelike tussen mense van die teenorgestelde geslag as “Christelik” erken word; asook die verwerping van die grootdoop – “Die Algemene Sinode is nogtans daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag...

Voorbeelde van meer liberale besluite was die belaglike besluit dat lidmate self kan besluit of hulle wil glo in die bestaan of nie-bestaan (of selfs uitdryf!) van die duiwel; en natuurlik die aanvaarding van die Belhar-belydenis. Die NG Kerk het egter nog geen duidelike standpunt oor die “skeppingsleer vs. ewolusie”-debat ingeneem nie. Dit is insiggewend dat hierdie besluite van die NG Kerk min of meer dieselfde tyd as die besluit van die Algemene Kerkvergadering van die NH Kerk oor die “onbybelse” status van die apartheidsbeleid, plaasgevind het. Dit herinner nogal aan die keer toe die drie susterskerke jare gelede min of meer dieselfde tyd besluit het dat vroue nie meer hoede hoef te dra wanneer hulle kerkdienste bywoon nie. Die “bottom line” is natuurlik dat sinodes se besluite weinig te make het met die leiding van die Heilige Gees, terwyl dit meer verband hou met politieke en kulturele omstandighede.

Dit is te betwyfel of die onlangse aanvaarding van die Belhar-belydenis deur die Algemene Sinode van die NG Kerk, ‘n noemenswaardige bydrae sal kan lewer tot toekomstige rasseharmonie in die land. Hierdie besluit is egter ‘n duidelike voorbeeld van die geweldige oorvleuelinge wat daar bestaan tussen godsdiens en die politiek; asook van die onmoontlikheid daarvan om veral die Afrikaanse susterskerke volledig te distansieer van die maatskaplike kwessies van die land. Dit kan egter wel lei tot nog verdere verdeeldheid onder die blanke lidmate van die kerk. Waar die vroeëre apatie van kerkleiers jeens die apartheidsbeleid bygedra het tot vervreemding tussen verskillende bevolkingsgroepe, kan die huidige aanvaarding van ‘n grootliks politieke belydenis, lei tot nog verdere verdeeldheid onder blankes – asof daar nie alreeds oorgenoeg verdeeldheid onder hulle is nie!

Александр Фильчаков Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae