Die “intervensie-eenheid” van Mpumalanga se verkeersdepartement se eerste dag in die veld, het gelei tot die ernstige aanranding van ‘n 42-jarige wit boer van Grootvlei omdat sy remlig glo stukkend was.
‘n Woordvoerder van die departement van veiligheid en sekuriteit, het die voorval bevestig. Lt.kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê die saak word ondersoek.
Rikus Ras is glo deur tien verkeersmanne voor sy twee kleuters gewelddadig aangerand. Sy twee swart werkers moes die kinders uit die bakkie red en met hulle op vlug slaan.
Hy is daarna oorrompel met traangas, geboei en na die polisiekantoor geneem. Ras is by die polisiekantoor op Grootvlei vir aanranding, crimen injuria en verontagsaming van ‘n verkeersman se opdragte aangekla.
Die nuwe eenheid is deur die LUR vir veiligheid en sekuriteit van die provinsie Vusi Shongwe op die been gebring.
Die voorval het omstreeks 14:00 by ‘n T-aansluiting buite Villiers op die grens met Mpumalanga plaasgevind.
Nadat Ras deur die intervensie-eenheid rondgepluk en gedreig is, het hy in sy voertuig geklim en gesê dat hy ‘n klag teen hulle gaan bring.
Die verkeerspolisie het hom agternagesit, van die pad gedwing, sy ruite gebreek en probeer verwurg.
Klagte van aanranding is ook deur Ras teen die groep verkeersmanne aanhangig gemaak.
