“Dit is baie ongelukkig dat [Tutu] nog voordat hy eens die regering se kant van die saak gehoor het, besluit het om die regering en die ANC aan te val,” het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, gesê.
“In sy woede het hy skraps met die waarheid omgegaan.”
Dié stelling is in verwysing na Tutu wat gedurende sy aanval op die ANC gesê het die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, het “skraps met die waarheid omgegaan” toe sy in 2009 gesê het die Dalai Lama kan Suid-Afrika enige tyd besoek.
Tutu het vroeër Dinsdag in reaksie op die regering se “versuim” om ‘n visum aan die Dalai Lama toe te staan sodat hy die land kan besoek, gesê Suid-Afrikaners sal bid vir die val van die ANC.
“Ons sal bid soos ons gebid het vir die val van die apartheid-regering. Ons sal bid vir die val van ‘n regering wat ons verkeerd voorstel,” het Tutu luidrugtig tydens ‘n mediakonferensie in Kaapstad uitgeroep.
Mthembu het later in reaksie gesê Tutu “weet diep in sy hart dat die ANC sy bes doen en dat baie min mense in die geestelike gemeenskap daarom vir die val van die ANC sal bid”.
Tutu het voorts gesê die ANC beskik oor ‘n groot meerderheid, maar die voormalige Egiptiese leier Hosni Moebarak en die voormalige Libiese leier Moeammar Gaddafi, wat albei in opstande in hul eie lande ontsetel is, het ook oor groot meerderhede beskik.
“Moebarak het ‘n groot meerderheid gehad. Gaddafi het ‘n groot meerderheid gehad. Pasop. Ek waarsku julle. Pasop!”
Tutu het ook gesê die huidige regering is “erger as die apartheidsregering” wat die goedkeuring van paspoorte en visums betref.
Mthembu het teruggekap deur te sê dit is inkorrek om die ANC-regering te vergelyk met die “onderdrukkende en verdelende” apartheidsbewind, wat nooit omgegee het vir die meerderheid mense in Suid-Afrika nie.
“Hulle is nie dieselfde nie en om te sê die ANC het erger geraak… die Biskop weet diep in sy hart, gedagtes en siel dat dit ‘n totale onwaarheid is.
“Vanweë die ANC se reputasie, geskiedenis met menseregte, demokratiese beginsels en Suid-Afrika se progressiewe grondwet word Suid-Afrika vandag deur internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies en die Afrika-Unie erken as ‘n belangrike rolspeler in internasionale vrede en as ‘n beskermer van menseregte.
“Daarom is die Aartsbiskop se vergelyking van die ANC en die regering met die apartheidsregering, die ontsetelde voormalige Egiptiese president, Hosni Moebarak, en die voormalige leier van Libië, Moeammar Gaddafi, baie ongelukkig en heeltemal misplaas.”
Tutu het ook sterk woorde vir President Jacob Zuma gehad. Hy het gesê hy het in ‘n stadium na een van Zuma se staatsredes geluister toe hy eer aan almal betoon het wat die bewindverandering help meebring het, behalwe geestelike leiers.
“Ek het geluister na die president wat eer betoon aan allerhande mense wat demokrasie in die land help bring het. Die president het nie ‘n enkele geestelike leier genoem nie. Laat weet die ANC hulle kan ons nie uitvee nie,” het Tutu gesê.
Mthembu het in reaksie hierop gesê die party het nooit enige bydrae deur enige groep in Suid-Afrika gering geskat nie, maar was eerder in sy karakter en benadering omarmend en konsulterend.
“[Tutu] het al daardie dinge gesê omdat hy kwaad en emosioneel is,” het Mthembu gesê.
Hy het gesê Tutu moet “asseblief kalmeer”.
“Wanneer ‘n mens kwaad is, is ‘n mens geneig om ernstige foute met uitsprake te maak… ons is nie ‘n regering wat mikrobestuur toepas nie. Die kwessie van die Dalai Lama is nie eens binne ons strukture bespreek nie.”
Mthembu het gesê die departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking moet Suid-Afrikaners inlig oor die kwessie van die Dalai Lama en onthul wat gebeur het, sodat almal op dieselfde bladsy kan wees.
“Die Suid-Afrikaanse regering het nog nie gereageer op sy onttrekking van sy aansoek nie,” het hy gesê.
“Ons vra Suid-Afrikaners dus om diep asem te haal en te kalmeer totdat ons ‘n reaksie van die regering kry. Dit is logies en maak sin dat ons nie die wa voor die osse inspan nie.”
Hy het gevra dat Suid-Afrikaners, insluitende Tutu, kalm bly en die regering die geleentheid gun om almal in te lig oor die kwessie wat gelei het tot die Tibettaanse geestelike leier se terugtrekking van sy aansoek.
“Ons vra die Aartsbiskop om te kalmeer en met die ANC en die regering saam te werk, eerstens oor die Dalai Lama-kwessie.
“Tweedens vra ons die Aartsbiskop om nie te bid vir die val van die ANC-regering nie, maar om eerder met die ANC saam te werk en te bid dat die ANC-regering ‘n beter lewe vir al die mense van Suid-Afrika kan verseker.”
