Politieke partye het ‘n geleentheid raakgesien om kiesers te lok deur te konsentreer op dienslewering vir swart gebiede.
Twee van die DA se top vroueleiers het tydens die party se tussenverkiesingsveldtog in Limpopo ‘n optog na die plaaslike Mogalakwena-munisipaliteit gelei.
Lindiwe Mazibuko en Desiree van der Walt het daarna ‘n memorandum van griewe en ‘n versoekskrif met duisend handtekeninge oorhandig. Hulle is glo bekommerd oor wat hulle genoem het die stadige pas van dienslewering.
Van der Walt wat die partyleier in die provinsie is, sê die meeste strate in die HOP nedersetting is oorstroom deur riool en daar is geen basiese dienste nie.
Van der Walt het nie kommentaar gelewer oor die gebrek aan dienste in wit gebiede wat deur die munisipaliteite oorgesien word nie.
Die president van COPE, Mosiuoa Lekota, sê die ANC-regering lewer weens korrupsie binne die regering geen dienste aan plattelandse gebiede, veral in Limpopo nie.
Lekota is besig met deur-tot deur veldtogte by verskillende dorpies in die Vhembedistrik as deel van die opbou tot Woensdag se tussenverkiesing. Hy het aan ‘n groep mense in die Bungeni-township gesê die hulpbronne binne die regering word nie eweredig versprei nie.
