‘n Boer het ‘n swartman wat probeer het om hom met ‘n panga aan te val en van koperkabels te beroof in Trichardtsdal in die Maake-gebied doodgeskiet, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.
Vyf mans het die boer se plaas Saterdag omstreeks 13:00 betree en hom met ‘n panga oor die kop geslaan, het lt. kol. Mohale Ramatseba gesê.
Die boer het daarin geslaag om sy geweer uit te haal en het verskeie skote op die vermeende rowers afgevuur. ‘n Dertigjarige swartman is op die toneel dood nadat hy geskiet is. Sy makkers het weggehardloop sonder om enigiets te steel.
Die boer is met ‘n ligte besering in ‘n hospitaal opgeneem. ‘n Ondersoek is geloods. Die vier vermeende rowers is steeds op vrye voet.
