Afrikaans op sy beste

Aksie ten bate van Afrikaans is broodnodig. Sulke inisiatiewe word egter grootliks onvermeld in die Afrikaanse hoofstroomkoerante en dit terwyl hulle klaarblyklik finansieel by die onderskraging van Afrikaans kan baat.

In die KaapRapport, 11 deser, p 06, word berig dat daar tussen formele en informele taal en tussen skryf- en praattaal onderskei word. Standaardafrikaans word veral met die formele en skryftaal geassosieer, maar as praattaal ook met situasies soos in die klaskamer en die kerk. Dat daar variëteite van Afrikaans is, bv streektale soos Namakwalands, behoef geen betoog nie. Dit is ook ‘n feit dat Afrikaans, soos ander hedendaagse tale, aan ander tale ontleen. Tradisioneel was daar die gesonde gewoonte om woorde uit veral Nederlands en Duits oor te neem, dikwels in aangepaste vorm. Sodanige ontlening bedreig nie die eiesoortigheid en voortbestaan van Afrikaans nie.

Daarbenewens word die geskiedenis van Afrikaans deur ‘n besonder oorspronklike skeppingsvermoë gekenmerk. In die vorige eeu was daar afdoende rede om (oor die algemeen) trots op die gebruikers van Afrikaans en Standaardafrikaans te wees. Laasgenoemde is voorheen tereg Algemeen Beskaafde Afrikaans genoem. Van 1990 af en veral sedert 1994 het die situasie drasties verander en is daar sekerlik rede tot kommer.

Volgens die Rapport-berig is Afrikaans sedertdien gedemokratiseer. Die uitgangspunt is klaarblyklik dat demokrasie goed is; ook vir Suid-Afrika met sy massa ongeletterde en oningeligte inwoners. Die stem van iedere kieser dra dieselfde gewig, sodat kwantiteit oor kwaliteit seëvier met chaotiese gevolge. Oral in die openbare lewe geniet die belange van swartes voorkeur bloot omdat hulle meer is en hulle deurslaggewend die regering bepaal. Dit dien as spoorslag vir politieke korrektheid, ook by nie-swartes. Anders as voorheen, wil bruines nou ook swart wees. Baie wittes buig agteroor om swartes ter wille te wees onder die voorwendsel dat almal die land moet “laat werk”. In Afrikanergeledere is daar die bedenklike verskynsel van die verlooptes.

Wanneer Afrikaners in hierdie situasie taaltrots bepleit, word hulle as taalbulle geëtiketteer. Diegene wat hulle beywer vir ordentlike, suiwer Afrikaans word taalpuriste (pleks van taallojaliste) genoem. Oor die Engels-besoedelde “Afrikaans” van tieners word in die Rapport-berig beweer dat dit nie reg of verkeerd is nie. “Dis net anders”. Deesdae val die klem op die “ryke verskeidenheid” van Afrikaans, wat in die egalitariese politieke klimaat beteken dat Engels-besoedelde Afrikaans net so goed as tradisionele of Standaardafrikaans geag word. Die terreurbendes het ons vry gemaak. Almal kan maar met Afrikaans doen wat (bv mors soos) hulle wil. Afrikaans moet glo “gebruikersvriendelik” wees, gevolglik is dit onnodig om bedagsaam en met agting en waardering daarmee om te gaan. Volgens diesulkes moet daar nie moeite gedoen word om goeie Afrikaans te gebruik nie. Maar vir dieselfde elemente is dit ‘n saak van eer om goeie Engels te probeer besig. Daar word met twee mate gemeet.

Waarom so baie Afrikaners met hierdie toedrag van sake vir lief neem, is omdat hulle hulle selfrespek verloor het. Hulle is ondergeploeg deur die ruggraatlose, roemlose, algehele magsoorgawe van FW de Klerk & kie, gevolg deur onder andere die slu georkestreerde Waarheids- en Versoeningskommissie. Dag na dag is ‘n veldtog teen veral die Afrikaners in die koerante en oor die radio en televisie gevoer, deur mense soos Max du Preez en Antjie Krog. Geen poging is aangewend om ewewigtig met feite om te gaan en sake in perspektief te stel nie. Volgens die politiek-korrektes moet alles eie aan die vorige politieke bedeling gediskrediteer en verkieslik vernietig word en dit sluit sekerlik Afrikaans in.

Myns insiens is Afrikaans, eerder as bv godsdiens of politiek, die kern van die Afrikaner. As hy wil oorleef, moet hy sorg dat sy taal nie vermurwe word nie. Vandaar my vyfde gebod vir regte Afrikaners (na aanleiding van die Genootskap van Regte Afrikaners): “Benut Afrikaans altyd en oral. Beveg diegene wat Afrikaans misken en met Engelse woorde besoedel” (Praag-briewe, 13 deser).

Naas al die goeie dinge wat Solidariteit en Praag doen, is daar nog iets wat vir Afrikaans gedoen kan word. In Ierland voer die Iere ‘n opdraande stryd teen Engels. Taallojaliste dra in hulle knoopsgat of op hulle bors die fáinne, ‘n sirkelvormige goue of silwer lapelwapen of borsspeld. Ons het iets soortgelyk vir Afrikaanslojaliste nodig.

Фільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae