Selfverdediging sal nie as verweer gebruik kan word in sulke gevalle nie.
Pieter Groenewald, LP van die VF+, het die Konsepwetsontwerp op Gevaarlike Wapens wat vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer is, as “absurd” afgemaak en sê die polisie sal danksy die wet “mense links en regs mense kan arresteer”.
“Die feit dat jy nie selfverdediging as ‘n verweer kan gebruik nie, maak die konsepwet ook ongrondwetlik. Dis om die minste te sê absurd.”
Volgens Groenewald is “feitlik enigiets van ‘n knipmes tot ‘n klip” ‘n gevaarlike wapen. “‘n Vrou wat laataand met pepersproei in haar handsak loop sal dus ook gearresteer kan word omdat sy nie mag aanvoer dis vir selfverdediging nie.”
Een van die wetsklousules stel dit uitdruklik: ” ‘n Verweer van selfverdediging word nie as ‘n redelike verduideliking vir die besit van ‘n gevaarlike wapen in ‘n openbare plek beskou nie.”
Die doel van die wetsontwerp is om die verouderde Wet op Gevaarlike Wapens van 1968 te vervang omdat die polisie vandag glo met nuwe uitdagings worstel.
“‘n Groot aantal moorde, rooftogte en ander ernstige geweldmisdaad word jaarliks met gevaarlike wapens soos messe gepleeg en ook met replikas van vuurwapens (speelgoedgewere) wat moeilik van ware vuurwapens onderskei kan word.”
Sulke replikas van vuurwapens sal ook onder sekere omstandighede verbied kan word.
