Die versameling onderhoude is deur die historikus Arthur Schlesinger in 1964, vier maande ná Kennedy in Dallas doodgeskiet is, gemaak.
Die video-opnames is Dinsdag in ‘n twee uur lange program op die ABC-netwerk uitgesaai en ook in boek-vorm met bykomende CD’s bekendgestel.
Haar baie onvleiende uitlatings oor Martin Luther King, die swart bevryder, het tonge los. Volgens bronne het King graag seksorgies gehou en mev. Kennedy is blykbaar deur Edgar J. Hoover van sy onbetaamlike gedrag ingelig. Kennedy noem hom in die video “skynheilig” en “aaklig”.
King het glo selfs die dag voor sy geskiedkundige “I have a dream”- toespraak, só ‘n orgie gereël.
Sy beskryf die Franse leier, Charles de Gaulle, as “moedswillig” en die Franse in die algemeen as “nie baie gaaf nie” en “selfsugtig”.
Sy verwys ook na Indira Gandhi, wat later premier van Indië sou word, as ‘n “bitter, opdringerige en aaklige vrou”.
Die versameling onderhoude is getiteld “Jacqueline Kennedy: Historic Conversations on Life with John F. Kennedy”.
Kennedy se liefde vir haar man is duidelik sigbaar in die meer as agt ure van onderhoude en ondanks haar openhartige aanmerkings oor ‘n verskeidenheid onderwerpe, noem sy nooit die president se vermeende ontrouheid aan haar nie.
Hy was “die mees onselfbewuste mens wat ek ooit gesien het,” het Kennedy, wat in daardie stadium 34 jaar oud was, gesê.
Sy vertel in die video-opnames hoe haar man, wat twaalf jaar ouer as sy was, hul dogter Caroline geleer het hoe om te swem en hoe hy in die bad, aan tafel en selfs terwyl hy aangetrek het, boeke gelees het.
‘n Beskeie Kennedy dring ook tydens die onderhoud daarop aan dat haar rol was om haar man te dien en nooit self in die politiek betrokke te raak nie.
“Ek kry al my menings van my man … Hoe kan ek enige politieke menings hê, jy weet? Syne sou altyd die beste wees,” sê sy.
