Die publikasie van prominente foto’s van twee beamptes wat seks gehad het terwyl hulle aan diens was deur die Sowetan, was nie in die openbare belang nie, het die Persombudsman beslis.“Dit was nie nodig om terug te val op die prominente en eksplisiete publikasie van die foto’s om die boodskap oor te dra nie… daar was geen ‘openbare belang’ daarin om dit te doen nie,” het Johan Retief, adjunk-persombudsman, beslis.
Hy het die koerant beveel om op beide die voorblad en tweede blad ‘n verskoning te plaas.
“‘n Visuele voorstelling van seksuele gedrag mag nie gepubliseer word nie, tensy ‘n legitieme argument van openbare belang anders bewys.”
Die koerant se adjunk-nuusredakteur, Khangale Makhado, het Dinsdag gesê prokureurs word gekonsulteer, maar dit is nog nie seker of hulle appél sal aanteken nie.
“Dit is nog oop, die prokureurs sal ons adviseer.”
Die omstrede foto’s, wat op 15 Augustus op die voorblad en tweede bladsy gepubliseer is, het gewys hoe ‘n beampte van korrektiewe dienste en ‘n vroulike polisiebeampte seks in ‘n hospitaal gehad het terwyl hulle aan diens was. Retief het gesê die storie self was wel in die openbare belang, aangesien die betrokke persone deur belastingbetalers betaal word.
Die koerant het op verskeie maniere die perskode oortree – onder meer deur nie sensitiwiteit te toon aan die koerant se lesers, die paartjie se gesin en kinders en kinders in die algemeen nie.
Kort ná die artikels gepubliseer is, het die koerant se publiek-redakteur, Joe Latakgomo, ‘n rubriek geskryf waarin hy erken het die koerant het verskeie klagtes ontvang.
Retief het gesê die verskoning aan die lesers, die paartjie se gesin en kinders en kinders in die algemeen moet op die voorblad bó die vou gepubliseer word.
Die Sowetan moet ook op die tweede blad sê dat ses lesers by die Persombudsman gekla het. Die kern van die klagtes moet ook omskryf word.
Nadat die artikel gepubliseer is, is die vroulike beampte afgedank. Die man is geskors en sal dissiplinêr verhoor word.
