Die Nelson Mandelastigting het intussen ook gerugte ontken wat mbv die sosiale netwerk Twitter versprei het, en kommer wek oor die oudpresident se gesondheid.
Die stigting sê dit gaan goed met Mandela. Sy persoonlike assistent, Zelda la Grange, sê daar is geen rede tot kommer nie. ‘n Woordvoerder van die Presidensie, Mac Maharaj, sê hy is ook nie bewus van enige nuus oor Mandela se ongesteldheid nie.
Sy voormalige eggenoot, die 74-jarige Madikizela-Mandela het glo ‘n enkelbesering opgedoen en word by die Brenthurst-kliniek in Johannesburg behandel.
Veronica Holliday, ‘n woordvoerder van die kliniek, het gesê sy kan nie oor Madikizela-Mandela se toestand kommentaar lewer nie, maar het bevestig dat die omstrede figuur in die kliniek opgeneem is.
Dit is nie bekend wanneer Madikizela-Mandela ontslaan gaan word nie.
