“Die Vryheidsfront Plus verwelkom die afname in meeste van die geweldsmisdade soos moord met 6,5%. Dit is duidelik dat die Wêreldbekersokker met hoër en meer sigbare polisiëring ‘n groot rede was. Suid-Afrikaners moet egter nie mislei word deur die statistiek nie.
Die wêreldgemiddeld vir moord is tans 7 per 100 000 van die bevolking en Suid-Afrika se syfer is nou 31,9 per 100 000. Dit is steeds amper vyf keer meer as die wêreldgemiddeld. Hoewel rooftogte by woonhuise afgeneem het met 10,1% (16 889) het dit steeds met 60,6% gestyg die afgelope vyf jaar en 16,6 % gestyg die afgelope drie jaar. Verkragtings het nou die derde agtereenvolgende jaar toegeneem (56 272).
Suid-Afrika is steeds onveilig veral vir vroue,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder oor Polisie vir die Vryheidsfront Plus.
“Die minister het steeds nie die syfer vir plaasmoorde gegee nie en dit word betreur. Die Vryheidsfront Plus sal die saak verder in die parlement voer. Volgende jaar se misdaadstatistiek sal ‘n beter aanduiding gee van misdaadsyfers.
Daar moet ook onthou word dat slegs 10% van misdadigers suksesvol in die howe gevonnis word. Die Polisie doen sy werk beter, maar misdaad in geheel word nie beter bekamp nie. Die totale strafregstelsel sal beter moet werk om misdaad effektief te bekamp,” het Groenewald gesê.
