Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het haar skok uitgespreek dat onderwysgehalte in Suid-Afrika besonder laag is.
Motshekga het Maandag meer aan 800 hoofde van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) gesê die onlangse nasionale assesseringsuitslae (ANA) wys dat die standaard buitengewoon swak is omdat 70% van die land se leerlinge ver onder die verwagte vlakke presteer.
“Ek was baie geskok. In van die antwoordstelle wat ek gesien het, kon ek nie eens uitmaak wat die leerlinge geskryf het nie. Dit was duidelik baie het nie basiese vaardighede nie en kan nie eens doodgewone woorde korrek gebruik nie. Van die gr. 4-leerlinge was nie eens in staat om eenvoudige berekeninge met tweesyfergetalle te doen nie. Dit was vir my net so skokkend dat daar skole in vooruitstrewende gebiede is waar leerlinge net so swak gevaar het.”
Motshekga meen goeie leierskap in skole sal daartoe lei dat leerlinge beter presteer. Sy het SAOU se hulp gevra in dié verband.
