Grondvoorstelle plaas druk op voedselsekerheid

“Daar is verbeteringe in die groenskrif op grond wat verwelkom moet word. Deurdat die groenskrif op grond egter steeds ‘n plafon voorstel op die hoeveelheid privaatgrond wat ‘n individu mag besit, skep dit ‘n resep vir voedseltekorte in Suid-Afrika. Ongeveer 15% van Suid-Afrika se kommersiële boere produseer tans 80% van die kos wat gebruik word. Deur grondbeperkings op hierdie groot boere te plaas, gaan die hele landbou-ekonomie verwring sonder om die grondhervormingsprobleme van die regering op te los,” volgens dr. Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye. Dr. Mulder was ‘n spreker by die TLU se jaarlikse kongres in Pretoria.

“In Suid-Afrika het die hoeveelheid grond wat onder landbouproduksie is, met 30% afgeneem van 1994 tot 2009,” volgens dr. Mulder. “Dit plaas baie groter druk op landbouers om steeds genoeg voedsel vir die Suid-Afrikaanse bevolking van 50 miljoen te produseer op minder grond. Grondhervorming, klimaatsverandering en die wisselkoers is van die belangrikste redes wat daartoe gelei het dat hierdie grond nie meer onder produksie is nie. Dit terwyl Suid-Afrika maar 13% grond het wat geskik is vir volhoubare intensiewe boerdery,” het Mulder bygevoeg.

“Suid-Afrika se kommersiële boere het van 60 000 in 1996 afgeneem na minder as 40 000 vandag. Ongeveer 40 miljoen mense van Suid-Afrika se bevolking van 50 miljoen kan nie in hulle eie voedselbehoeftes voorsien nie. Dit beteken dat elke kommersiële boer vir ongeveer 1100 mense kos moet produseer. Suid-Afrika behoort in die lig van hierdie syfers baie meer te doen om te verseker dat die kommersiële landbousektor nie tot niet gaan nie. As ‘n land een keer sy kommersiële landbousektor verloor het, soos in Zimbabwe gebeur het, is dit amper onmoontlik om dit weer op te bou,” het dr. Mulder gesê.

Александр Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae