“Hamas en ander terreurgroepe in Gasa moet weet hulle sal ‘n fout maak om ons mag uit te daag en dat enige poging om die burgers van Israel leed aan te doen, ernstige gevolge sal hê,” het stafhoof Benny Gantz Woensdag in ‘n persverklaring gesê.
Die weermag het twee dae gelede hul gereedheidsvlakke op die Egiptiese grens opgegradeer nadat hulle uitgevind het hernieude aanvalle word in die gebied beplan in opvolging van ‘n reeks dodelike aanvalle in die suide van Israel op 18 Augustus.
“Ons is oor ‘n terreursel in Sinai ingelig wat uit meer as 10 terroriste bestaan,” het Matan Vilnai, minister van binnelandse veiligheid, aan verslaggewers gesê. Volgens hom word die groep met die organisasie Islamitiese Djihad verbind.
Volgens Avi Dichter, ‘n Israeliese parlementslid en hoof van die Shin Bet-sekerheidsdiens, sal ‘n aanval vanuit Sinai ‘n manier vir militante van Gasa wees om hul betrokkenheid te verdoesel sodat die aanvalle nie Palestynse pogings belemmer om lid van die VN te word nie.
“Die oomblik toe die terreurorganisasie begryp het ‘n regstreekse aanval vanuit Gasa sal hul veldtog by die VN in September belemmer, het hulle hul aanvalle vanaf Gasa na Egipte geskuif,” het hy gesê.
Die Palestyne gaan hul amptelike versoek om lid van die VN te word op 20 September by die organisasie indien sodat dit by die 66ste byeenkoms van die Algemene Vergadering bespreek kan word.
