“Hierdie is verdere bewys dat die nuwe Vuurwapenwet chaoties bestuur is en vuurwapeneienaars se regte aangetas word. Elke aansoeker van ‘n vuurwapenlisensie is grondwetlik geregtig op spoedige administratiewe handeling, maar die agterstand bewys die teendeel. As in ag geneem word dat oor ‘n tydperk van drie jaar ‘n agterstand van 50% ontstaan het, gaan dit minstens nog drie jaar neem om die agterstand te verwerk. Dit is onbillik teenoor aansoekers van vuurwapenlisensies,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder oor Polisie vir die Vryheidsfront Plus
“Die minister het reeds gefaal om sy belofte na te kom oor die uitwissing van die agterstand van aansoeke vir vuurwapenlisensies. Hy het in November verlede jaar belowe die agterstand sal binne nege maande uitgewis wees. Dit is tien maande later en daar is steeds ‘n groot agterstand. Die Vryheidsfront Plus het toe reeds gewaarsku dit is prakties nie haalbaar nie. Ons herhaal ons voorstel dat dringende wysigings aangebring moet word aan die wet sodat die administrasie verlig en bespoedig kan word,” het Groenewald gesê.
