‘n Verslag oor die haglike toestande van plaaswerkers op wyn- en vrugteplase in die Wes-Kaap wat Dinsdag deur Human Rights Watch (HRW) in Kaapstad bekend gestel is, is deur Agri SA verwerp.
Die verslag getiteld “Ripe with Abuse: Human Rights Conditions in South Africa’s Fruit and Wine Industries” beskuldig die plaaslike regering daarvan dat hulle misluk het om die regte van plaaswerkers in die Wes-Kaap te beskerm.
Agri SA se president, Johannes Möller, het die verslag as “eensydig, kwaadwillig, onredelik en hoogs onverantwoordelik” beskryf, volgens Media24.
Van die 260 mense wat aan die studie deelgeneem het, is net 85 plaaswerkers, 32 oudplaaswerkers en 16 plaasbewoners. Agri SA sê dit is geen refleksie van die 121 000 plaaswerkers in die bedryf se omstandighede nie.
Siphokazi Mthathi, direkteur van HRW in Suid-Afrika, het egter gesê die organisasie wil “verandering sien”. Die Amerikaanse navorser en skrywer van die verslag, Kaitlin Cordes, het Mthathi se houding beaam en gesê HRW is nie ‘n organisasie wat kwantitatiewe navorsing doen nie.
Cordes het ontken dat sy met ‘n duidelike agenda hierheen gekom het.
HRW se Afrika-direkteur, Daniel Bekele, het die verslag gesteun.
