Oor gedeelde belange tussen Wes-Europa en die VSA wat gedurende die Koue Oorlog ‘n gegewe was, hang deesdae ‘n vraagteken, veral ná Merkel se besluit om buite stemming te bly oor NAVO se bomaanvalle in Libië. Dié stap het konsternasie in die Amerikaanse State Department veroorsaak.
Maar nie net Libië blyk ‘n probleem te wees nie. Met die Griekse krisis, waar skuldherskedulering met die betrokkenheid van privaatskuldeisers dreig om beleggingsbanke in die VSA te knou, loop die Amerikaners katvoet. Vandaar dan die lofsange aan die Duitse kanselier en die oormatige Amerikaanse gasvryheid hierdie week.
Die VSA wil kennelik hê Duitsland moet verantwoordelikheid neem as die finansierder van heropbou in die Arabiese wêreld, as ‘n anker van stabiliteit in die euroturbulensie en as ‘n politieke spelbreker namens die VSA in die Midde-Ooste.
In die Verenigde State en in die buiteland, het bekommernisse egter Woensdag van die skuldplafonkwessie na die algehele gesondheid van die wêreld se grootste ekonomie en die moontlikheid van ‘n resessie, verskuif.
Die Wetsontwerp wat Obama Dinsdag onderteken het, stel ‘n kommissie van ses Demokrate en ses Republikeine aan om verder te werk aan die vermindering van die land se tekort. Die kommissie is belas met die opstel van ‘n plan wat teen die einde van November in plek moet wees.
Beleggers se senuwees is dun alhoewel Moody’s Dinsdag aangekondig het dat die VSA sy top AAA-kredietgradering sal hou, maar met ‘n “negatiewe” uitkyk, wat beteken dat hulle afgegradeer kan word in die toekoms. Die VSA het sedert sy stigting in 1917 nog deurentyd ‘n top-gradering behaal by die agentskap.
Die Duitse pers het gereageer met spotprente van aasvoëls. In een so ‘n spotprent word Mount Rushmore se vier presidente met vier aasvoëlkoppe vervang, en in ‘n spotprent in die Financial Times Deutschland Woensdag belowe nog ‘n aasvoël dat hy sal terugkeer na Capitol Hill vanwaar hy verder sal aas.
Die Duitsers is van mening dat die skuldkrisis in die VSA ‘n politieke, nie ‘n finansiële debakel is nie. Soos die Tageszeitung dit stel is “alle staatsinsolvensies nie dieselfde nie”. Griekeland, byvoorbeeld, is werklik bankrot, terwyl die VSA nog steeds ‘n baie solvente land is, maar nie kans sien om belastings te verhoog nie vanweë ‘n sekere ideologiese bril waarmee hulle die kwessie benader.
