“Dit is duidelik dat die ANC-jeugliga se eise… [van nasionalisering] nie net opmerkings van ‘n spul heethoofde is nie,” het Ben Marais, president van TLU-SA, gesê.
“Beide die ANC en Cosatu ondersteun nasionalisering heelhartig en dis heel waarskynlik op die SAKP se kommunistiese agenda geskoei.”
‘n Ekonomis van Cosatu, Chris Malekane, het Donderdag gesê dat nasionalisering sál plaasvind en dat dit bloot die manier waarop dié stelsel geïmplementeer gaan word, wat nog ondersoek verg.
Malekane het tydens ‘n debat in Johannesburg gepraat en die jeugliga aangespoor om nasionalisering hoog op die agenda te plaas.
“Daar sal vergoeding ten bate van die publiek wees, maar nie ten koste van die Suid-Afrikaanse staat nie….balans moet gehandhaaf word,” het Malekane gesê.
Hy het bygevoeg dat grond ‘n natuurlike bate is, maar dat die staat dit besit en dat boere dit moet bewerk.
Geen vergoeding behoort vir grond gegee te word nie, het Malekane tydens die debat gesê.
In reaksie hierop het Marais gesê dat sonder vergoeding, boere “geteiken en vernietig” word.
“Is dit die rede hoekom niks aan plaasmoorde gedoen word nie?” het Marais gevra.
“Is elke boer wat doodgemaak word een minder probleem om te hanteer?”
TLU-SA het ‘n beroep op landbou- en besigheidsorganisasies gedoen om die betrokke partye se belange teen die bedreiging van nasionalisering te beskerm.
