Die ANC-jeugliga het egter, volgens Beeld van 03 Augustus 2011, die teregwysing op ‘n arrogante wyse verwerp. “Dit bewys dat die ANC-jeugliga van plan is om voort te gaan met hulle planne om die regering van Botswana omvêr te werp. In terme van artikel 50 van die Botswana Strafkode word sedisie gedefinieer as dade wat daarop gerig is om haat, disrespek en ongelukkigheid by ‘n spesifieke deel van die populasie op te stook teen die President van Botswana of die regsadministrasie. Dit blyk dus dat Malema en die Jeugliga se uitsprake dat ‘n regimeverandering nodig is, dat die huidige Botswana-regering bloot ‘n marionetregering van die VSA en voetstoel van imperialisme is, asook hulle voorneme om die opposisie-politiek in die land te beïnvloed tot regimeverandering, moontlik kan kwalifiseer as sedisie,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê.
“Daar behoort genoeg gronde te wees om Malema of enige ander lid van die ANC-jeugliga te arresteer sodra hulle in Botswana sou aankom. Weens die destabiliserende effek van ekonomiese verhoudinge tussen Botswana en Suid-Afrika, het die VF Plus ‘n skrywe aan die kantoor van die Prokureur-Generaal van Botswana gerig om aan hierdie kwessie aandag te gee,” het Alberts verder gesê. “Alternatiewe klagtes kan ook gebring word op grond van crimen injuria en ondermyning in terme van artikel 73 van die Botswana Strafkode.”
As die VF Plus met hierdie aksie net daarin kan slaag dat mnr. Malema en sy ANC-jeugliga bestuurslede nie hulle voete in Botswana sal mag sit nie, was die aksie reeds ‘n sukses.
Die VF Plus is ook van mening dat dit baie laat in die dag vir die ANC is om Malema en die ANC-jeugliga nou te wil berispe oor hulle uitsprake. Die kern van die probleem lê daarin dat die ANC se grondwet nie genoegsame jurisdiksie oor die ANC-jeugliga het nie, omdat die jeugliggaam as ‘n aparte organisasie erken word wat nie onder die ANC se direkte beheer val nie. Daarom sal die ANC hulle grondwet moet wysig as hulle in die toekoms die ANC-jeugliga genoegsaam wil beheer ten einde skade aan Suid-Afrika se ekonomiese beeld te verhoed.
Die VF Plus beskou ook die ANC se skielike teregwysing van Malema en die ANC-jeugliga as tekenend van dubbele standaarde. “Die ANC is bereid om saam met die Jeugliga ‘n lied wat mense aanspoor om Afrikaners (boere) te vermoor te verdedig, maar wil nou skielik intree noudat ‘n SAOG-land in die spervuur staan. Die feit dat Malema en die ANC-jeugliga nie amptelik gedissiplineer word nie, dui daarop dat die ANC of elemente daarbinne steeds Malema en die ANC-jeugliga beskerm. Daarom gaan die VF Plus voort met sy veldtog om Malema aan bande te lê,” het Alberts gesê.
