Sowel Leopold Scholtz as Amanda Gouws het onlangs in Die Burger ‘n pleidooi vir groter verdraagsaamheid en meer genuanseerde debat gelewer sodat ons nie sonder meer as hetsy “fasciste”, hetsy “bose wittes” uitgeskel word nie.
Scholtz meen dat onverdraagsaamheid “van regs” kom, maar die meeste regses in dié land lees die oorwegend linkse koerante en stuur hul kinders na “voorheen Afrikaanse universiteite” wat vandag ewe links as hul eweknieë in Wes-Europa of die VSA is. Volgens meningsopnames stem 86% van alle Amerikaanse akademici vir die Demokratiese Party terwyl meer as 80% van Franse onderwysers en dosente die Sosialistiese Party ondersteun. Daarom is ‘n kursus in die geesteswetenskappe vandag iets tussen ‘n Marxistiese heropvoedingskamp en katkisasie in die multikulturele evangelie.
Indien daar enige twyfel bestaan het dat Suid-Afrika in die greep van ‘n links-radikale revolusie verkeer, het mnr. Julius Malema dit onlangs uit die weg geruim. Gematigde of behoudende standpunte word kwalik verdra en die blote term “regse” het in ons land ‘n skelwoord geword, op die vlak van “rassis”, “fascis” en baie ander. ‘n Voorstander van die vryemarkstelsel, die gesin met twee heterosekuele ouers of Standaardafrikaans, kan verwag om een of ander tyd in ‘n muur van linkse verguising vas te loop.
Die internet het die hegemonie van Links verbreek. Die gevaar bestaan egter dat die Breivik-geval in Noorweë tot groter beheer en sensuur gaan lei. Want, soos die Amerikaanse rubriekskryfster Anne Coulter dit stel: “Enige misdaad deur ‘n blanke is ‘n regse komplot, enige misdaad deur ‘n nie-blanke is die regering wat iemand se burgerregte skend.”
Myns insiens bestaan gesonde dialoog en verdraagsaamheid tussen Afrikaners van allerlei oortuigings reeds. Onlangs het ek ‘n beskaafde gesprek van Afrikaanse organisasies bygewoon wat almal van dr. Lets Pretorius, ‘n aangeklaagde in die Boeremagsaak, tot die voorsitter van die Afrikanerbond ingesluit het. Sedert 2003 beywer ek my vir ‘n permanente Afrikanerforum of -volksraad waar politieke en kulturele debat sonder venyn gevoer kan word.
Nie net verdraagsaamheid nie, maar ook die waarheid loop gevaar om te sneuwel. Daarom moet ons aanhou om die hegemonie van Links uit te daag, in die voetspore van Solsjenitsin en die Franse “nuwe filosowe”.
