Beeld berig dat Justice Malala, Avusa se uitgewer, van die Sowetan se redakteur ontslae geraak het. Len Maseko was glo met verlof toe ‘n omstrede rubriek gepubliseer is, maar selfs dit kon hom nie red van die toorn van sy Brits-gesinde base nie.
“Al was Maseko met verlof in dié tydperk, aanvaar hy die gevolge van dié gebrekkige oordeel aan die kant van die koerant,” lui die verklaring.
Avusa het Woensdag besluit om huis te skoon maak ná Eric Miyeni se rubriek oor Ferial Haffajee.
Haffajee, City Press se redakteur, is Maandag deur Miyeni beskryf as ‘n lakei van wit kapitaliste.
Mondli Makhanya, hoofredakteur van die Avusa-groep se koerante, het in ‘n verklaring gesê Maseko het “volle verantwoordelikheid” vir die rubriek aanvaar en bedank. Hy wou nie enige verdere kommentaar lewer oor die drastiese besluit om van Maseko ook ontslae te raak nie.
Miyeni is Dinsdag, ‘n dag ná die verskyning van sy gewraakte stuk, as rubriekskrywer afgedank.
Die aankondiging is tydens ‘n vergadering met redaksielede by die Sowetan gemaak. Willie Bokala, die koerant se nuusredakteur, was ook te bang om op die bedanking kommentaar te lewer nadat die uitgewer die sweep geklap het.
Mpumelelo Mkhabela is as redakteur van die Sowetan aangestel in die plek van Maseko. Hy het by die universiteit van Stellenbosch studeer, en het sy loopbaan by City Press, ‘n koerant in die Naspers-stal, begin.
