Die polisie het die oorskot van ‘n weggooibaba wat deur ‘n vark geëet is langs die oewer van ‘n rivier in Taung, Noordwes, gevind.
“Volgens die eienaar van die vark het hy gesien die dier eet iets en dat daar bloedvlekke om sy bek is,” het Lesego Metsi, ‘n polisiebeampte, gesê.
“By nadere ondersoek het hy gesien dit is ‘n baba. ‘n Klein linkerarm, die dy en ‘n halwe skedel het oorgebly.”
Die polisie soek tans die ma van die kind.
Sy sal heel moontlik daarvan aangekla word dat sy die dood van haar kind vir die owerhede weggesteek het.
Metsi het gesê dit is nie duidelik of die baba nog gelewe het voordat die ma haar kind langs die rivier weggegooi het nie.
