Rupert het Woensdag uit Londen aan BusinessLIVE vertel dat die ANC geweet het dat hy en sy pa nog nooit enige bande met die voormalige Nasionale Party gehad het nie en dit nooit befonds het nie.
Vroeër Woensdag, het die ANC-jeugliga, as deel van sy reaksie op vrae oor sy president, Julius Malema, se trustfonds, verklaar dat die Rupert-familie die meerderheidsaandeelhouer van “die Afrikaneroorheersde en -beheerde Naspers Groep is, waarvan die seniorbestuur 100% wit en manlik is”.
Die ANC-jeugliga het bygevoeg dat Naspers Media24 besit wat Rapport, Die Beeld, City Press en die Daily Sun-koerante beheer.
Dit was die City Press-koerant wat onlangs beweer het Limpopo se sakemanne betaal geld in Malema se trustfondsrekening in ruil vir die regeringstenders, iets wat die ANC-jeugliga ten sterkste ontken het.
“Al hierdie publikasies herhaal die apartheidideologie van wit oorheersing en stuur ‘n beeld van swart mense uit as korrupte of bygelowige mense met geen potensiaal het om te ontwikkel of sosiale, politieke en ekonomiese kwessies wat SA raak te konfronteer nie.”
Maar Rupert het gesê dit is nuus vir hom, en dit sal ook nuus wees vir Naspers se Koos Bekker, dat die Rupert-familie ‘n invloed oor die media-groep uitoefen.
“As ons enige aandele besit, kan dit slegs ‘n paar duisend aandele wees wat my oorlede pa [Anton Rupert] oorspronklik besit het.”
Rupert is die voorsitter van die luukse goedere-groep Richemont.
Die ANC Jeugliga het ook gesê hulle wil weet hoeveel plaas- en landbougrond die Rupert-familie in Suid-Afrika vandag besit en hoe die familie dié grond verkry het.
Rupert, wat duidelik geamuseerd deur die Jeugliga se aantygings is, het gesê dat beide hy en sy pa in die verlede gekritiseer is deur Naspers vir die feit dat hulle teen apartheid was.
“Mense weet dit en die ANC-leiers weet dit.”
Dit is nie die eerste keer dat die Rupert-familie aangeval word deur die ANC-jeugliga nie. “Dit is die 5de of 6de keer dat hulle ons familie bykom, en hulle maak bewerings dat ons wegkruip in Stellenbosch.
“My rekord en my gesin se rekord teen rassisme kan vir homself praat.”
Een van SA se grootste banke, ABSA, is ook deur die ANC-jeugliga uitgesonder. “Wat is die rol van Absa, wie se uitvoerende hoof, Maria Ramos, in die openbaar teen die posisies van die ANC-jeugliga, veral oor die nasionalisering van myne, is?”
AfriForum het ook ‘n beurt gekry. Die ANC-Jeugliga beweer dat “die verhouding tussen Media24 en regse organisasies, in die besonder AfriForum” verduidelik moet word omdat AfriForum met “gratis Stop Malema-advertensies in Media24 se publikasies vir baie maande nou al volhou”.
AfriForum het ‘n korrupsiesaak teen die ANC-jeugliga se president gelê, na aanleiding van City Press se verslag dat Malema ‘n trustfonds vir die deposito’s van sakemanne in Limpopo aanhou.
AfriForum het die klag gelê in ooreenstemming met die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede van 2004.
