Afrikanerpolitiek is weer hoog mode en haal koerantvoorblaaie. Waarom? Omdat die Afrikaner se toekoms nooit in 1994 aangespreek is nie. De Klerk en Mandela was bloot begaan oor die oprigting van ‘n staat vir “Suid-Afrikaners”, hoofsaaklik swart en Engelssprekend. Met ‘n towerslag is die Afrikaner uit die land weggewens asof Jan van Riebeeck, die Vryburgers, die Groot Trek, twee vryheidsoorloë en ons magtige taal- en kultuurbeweging van die twintigste eeu nooit plaasgevind het nie.
Toenemend verteenwoordig Afrikaneronafhanklikheid die politieke middelgrond in Suid-Afrika. ‘n Eie staat vir Afrikaners sal vele van ons huidige probleme oplos: rondom taal, kultuur, etnisiteit, geweldsmisdaad en volksmoord teen boere, onderwys, regstellende aksie, grondhervorming en alles wat daarmee saamhang.
Diegene wat daarteen gekant is, is die ekstremiste wat aan die voorpunt van Suid-Afrika se linkse revolusie verkeer: die SAKP, Naspers en ander “liberale” mediagroepe, asook die ANC-jeugliga onder Julius Malema met sy rasnasionalistese projek om alle blanke bates te konfiskeer.
Redelike Afrikaners uit alle lae van die samelewing sê vandag: “Só kan dit nie langer aangaan nie”. Ons is aan die ontvangkant van té veel geweld, té veel haatspraak, té veel diskriminasie en onreg, te veel breinspoeling deur Afrikanervyandige, staatsonderdanige media. Daarom moet ons die ewe redelike keuse maak wat alle volkere deur die geskiedenis gemaak het en dit is om onsself te regeer.
Die ekstremistiese, linkse, revolusionêre “hoofstroom” in Suid-Afrika glo dat minderhede in die land oorheers en uiteindelik verdryf moet word. Maar daar is ook ‘n vorm van regse ekstremisme of konserwatisme wat onder Afrikaners in allerlei ultrakonserwatiewe bewegings manifesteer. Ek wil niemand etiketteer nie, maar om in die een-en-twintigste eeu te wil sê jy wil in ‘n uitsluitlik Christelike staat woon waar almal heteroseksueel moet wees en boeke met gekruide taal verbied moet word, verteenwoordig ‘n ultrakonserwatiewe, selfs verregse houding. Ongelukkig lyk dit asof die VVK-groep onder mnr. Paul Kruger dikwels hul eie sienings van moraliteit, godsdiens en selfs sport op ander Afrikaners wil afdwing. So skep hulle ‘n nuwe onvryheid, teenoor die onvryheid van die ANC en sy meelopers.
Die beweging vir ‘n eie Afrikanerstaat wat tans losbars, wil ‘n moderne staat met vooruitstrewende beginsels skep wat gemaklik met ander Westerse state sal kan assosieer. In daardie staat moet daar vryheid vir elke Afrikaner wees, van die mees konserwatiewe dweper wat nie dans nie of sy dogter toelaat om verder as standerd agt skool te gaan nie, tot vrysinnige kunstenaars wat iewers binne perke ‘n boheemse lewe wil lei. Almal sal gebind word deur ‘n gemeenskaplike Afrikaneridentiteit en taal, asook ‘n sterk patriotrisme en lojaliteit aan ons staat wat aan niemand anders behalwe onsself sal behoort nie.
Ultrakonserwatiewe Afrikaners moenie die verkryging van ‘n Afrikanerstaat ondergeskik maak aan die aanvaarding van hul eie beginsels nie, maar moet besef dat hulle maar een groepering onder baie Afrikanergroeperings verteenwoordig. Die staat moet vir almal wat hulself met Afrikanerskap vereenselwig, nagestreef word. Debatte oor godsdienstige en morele waardes moet vir die Volksraad ná onafhanklikheid gehou word. En watter plesier gaan dit nie wees om met mede-Afrikaners oor sulke kwessies in debat te tree nie!
Afrikaneronafhanklikheid en -vryheid is die middelgrond waarop ons almal bymekaar moet kom, weg van die ekstremismes van Suid-Afrika wat die huidige staat reeds op die pad van verval na die Zimbabwe- en Afrikamodel geplaas het.
Dit is die redelike alternatief. Meer nog: vir ons voortbestaan, is dit, benewens emigrasie en verengelsing in die vreemde, die énigste alternatief.
