Die party se ledetal staan op die oomblik op 914 852 – ‘n groei van 198 057 lede sedert September verlede jaar, toe die party ‘n amptelike ledetal van 749 112 gehad het, het Zuma gesê in ‘n verklaring wat by die Lilliesleaf-plaas in Rivonia, Johannesburg, vrygestel is.
“Ons moet verseker dat ons groei in getalle nie die karakter van die ANC verander nie.
“Die werwingsprogram sal dus geanker wees in twee hoof-rigtings, naamlik ‘n massiewe werwingsveldtog wat nuwe potensiële lede nader aan die een kant en ‘n fokus op politieke opvoeding aan die ander kant,” het Zuma gesê.
“Die veldtog sal ons lede leer om getrou te bly aan die beginsels van eenheid, selflose diens, kollektiewe leierskap, demokratiese sentralisme, interne debatvoering, nederigheid, eerlikheid, harde werk, konstruktiewe kritiek en selfkritiek, dissipline en wedersydse respek. Hierdie maak alles deel uit van die beweging se tradisies.”
Die ANC sal “ure aaneen” werk om die doel van een miljoen lede teen vroeg volgende jaar te bereik, het Zuma gesê.
Hy het gesê die veldtog is Maandag geloods om oudpresident Nelson Mandela te vereer.
“Die ANC is ontsettend trots om Madiba as leier te hê. Ons is trots om vandag sy nalatenskap met al ons mense en met die wêreld te deel.”
