Die Sekretaris-Generaal van die VN, Ban Ki-Moon, sê op die oomblik kan die wêreld nog gevoed word, maar tog is byna een-miljard mense besig om te verhonger. Die jaarlikse toename van 80 tot 85 miljoen mense wêreldwyd gaan ingrypende veranderings teweegbring. Hoe meer mense, hoe meer behoeftes, hoe meer tekorte. ‘n Tekort aan hulpbronne lei tot migrasie wat weer tekorte op ander plekke veroorsaak en groot druk op maatskaplike stelsels plaas. Siektes word meer, kos word minder, werk is skaarser, onderwys en opleiding word deur getalle versmoor en die omgewing word uitgeroei deur oorbeweiding, ontbossing en landboukundige wanbestuur.
Uiteindelik vlug miljoene mense na die stede en krotbuurte, plakkerskampe en infrastruktuur-uitputting word algemeen. Misdaad en etniese geweld steek toenemend sy kop uit. Amerika se Population Crisis Committee het al in 1989 bevind dat misdaad as gevolg van bevolkingsdruk toeneem. Voorverlede jaar het die VN ‘n ernstige pleidooi gelewer vir die afplatting van die wêreldbevolking omdat menslike bedrywighede besig is om die natuurlike prosesse van die aarde te oortref. Klimaatskommelings en die hidrologiese siklus bewys dit.
In 1860 was daar na raming slegs 1,13-miljoen mense in Suid-Afrika. Teen die jaar 2000 het die bevolking op ‘n raps meer as 43-miljoen gestaan. Vandag raak dit aan die 50-miljoen kerf. Geen wonder dus dat die gebrekkige krag- en watervoorsiening, behuising, onderwys, werkskepping, gesondheidsorg en misdaadbestryding die land in ‘n doodloopstraat laat beland het nie.
Ons vir jou, Suid-Afrika. Maar hoe lank nog?
