“As ek oorsee reis en gevra word oor my voorkeure wat die regulering van die pers en die media betref, moet ek praat oor dinge waarop ek trots is in Suid-Afrika… ek sal veel eerder praat oor ‘n media wat selfregulerend is as een wat deur die staat gereguleer word,” het hy by die bekendstelling van die Persvryheidsraad in Melville gesê.
Dié onafhanklike kommissie, wat deur Print Media SA en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) oogerig is, sal internasionale praktyke bestudeer om die beste vorm van selfregulering vir die Suid-Afrikaanse drukmedia te vind.
“Die Persvryheidsraad is ‘n onafhanklike ondersoekende kommissie wat die regulering van drukmedia sal bestudeer.
“Die raad sal kyk na verskeie vorme van regulering in terme van persregulering… om ‘n onafhanklike siening van selfregulering vir die drukmedia in Suid-Afrika te vind,” het Langa gesê.
Die raad is opgerig in reaksie op die ANC se voorstel vir ‘n mediatribunaal, wat in 2007 geopper is. Die ANC het verlede jaar besluit die parlement is die verkose weg om die vatbaarheid van só ‘n idee te ondersoek.
Die ANC se voorstel van ‘n mediatribunaal het skokgolwe deur die mediawêreld in Suid-Afrika gestuur, wat besorgdheid uitgespreek het oor die effek wat die tribunaal op persvryheid kan hê.
Mondli Makhanya, Sanef-voorsitter, het gesê die doel van die kommissie is nie om die ANC te keer om voort te gaan met die tribunaal nie.
“Dit is die ANC se proses daardie… wat ons van die kommissie vra, is om ‘n Rolls Royce te vervaardig. Ons uitgangspunt oor staatregulering is duidelik.”
Hy het gesê Sanef wil die “mees effektiewe” stelsel van selfregulering in die land hê. In die lig van die kritiek wat die media ontvang, het Makhanya gesê Sanef en die nuwe raad het gekies om “nie ons ore toe te maak nie”.
“Ons het gesê ons moet introspeksie pleeg,” het hy gesê.
Langa sal die voorsitter van die kommissie van nege lede wees. Die lede verteenwoordig die sakesektor, ‘n geloofsorganisasie, die akademia, die gereg en georganiseerde arbeid. ‘n Internasionale lid sal ook deel van die kommissie uitmaak.
“Die hoofdoel van die kommissie… is om persvryheid te verseker, ter ondersteuning van die verbetering van ons demokrasie,” het hy gesê.
Die kommissie hoop om teen Maart volgende jaar vatbare strategieë op die tafel te kan plaas.
