Zuma het Medwedef en NAVO sekretaris-generaal, Anders Fogh Rasmussen, ontmoet om ‘n raamwerk met die oog op ‘n politieke oplossing vir die probleme in Libië oor te dra. Dit was soos ooreengekom deur die Afrika-Unie-beraad in Ekwatoriaal-Guinee verlede week.
“Die vergadering was baie suksesvol, en ek is oortuig dat dit aansienlik sal bydra tot die bereiking van ‘n oplossing wat vrede en stabiliteit in Libië sal bring,” het Zuma gesê.
“Ons herhaal ons kommer oor die verkeerde interpretasie van die Verenigde Nasies se resolusie. Ons beklemtoon die belangrikheid van dringende onderhandelinge, en ons versoek NAVO om sekere voorwaardes wat dit moeilik of onmoontlik maak om te begin met die onderhandelingsproses, te skrap. “
Zuma het gesê hy is “baie tevrede” met Medwedef se versekering van sy land se steun vir die Afrika-Unie se padkaart.
“Ons is dit eens dat ‘n militêre oplossing nie die korrekte manier is om die probleem op te los nie,” het hy gesê.
Zuma het Medwedef in sy hoedanigheid as ‘n lid van die AU se hoë-vlak ad hoc-komitee oor Libië ontmoet.
Die AU-spitsberaad is verlede week in Malabo, Ekwatoriaal-Guinee gehou en daar is besluit dat ‘n politieke oplossing die enigste lewensvatbare manier is om die verwesenliking van die aspirasies van die Libiese mense te bereik.
Zuma se kantoor het gesê die raamwerk-ooreenkoms wat tussen Zuma, Medwedef en Rasmussen bespreek is, bevat elemente van die AU-padkaart asook ‘n meer gedetailleerde plan vir die voorgestelde weg vorentoe in Libië.
