Stakende werkers het Dinsdag motors se ruite uitgeslaan en mense aangerand in ‘n nywerheidspark, Lothlorien Industrial Park, in Wadeville, Johannesburg.
Berigte van intimidasie, dreigemente en geweld deur stakende metaalwerkers is Dinsdagoggend uit die ooste van Johannesburg ontvang.
Castro Ngobese, woordvoerder van Numsa, het gesê hy het deur mediaberigte te hore gekom van die geweld. Hy het stakers tot dissipline gemaan.
Francois van der Merwe, besturende direkteur van ‘n drukkery het aan EWN gesê stakende werkers het niksvermoedende verbygangers en kliënte van ‘n kombuiskasbedryf in die nywerheidspark aangeval.
Sowat 170 000 werkers van die vakbond Numsa het Dinsdag regoor die land gestaak.
In Germiston het ooggetuies vertel hoe stakende werkers hekke probeer oopbreek het by maatskappye om te sien of daar werkende personeel binne wegkruip.
In Elrode het ooggetuies ‘n soortgelyke toestand beskryf, met stakers wat werkers verhoed het om te gaan werk.
