Suid-Afrika se adjunkminister van finansies, Nhlanhla Nene, het Vrydag aan Reuters gesê die R10 miljard-versoek vir ‘n lening van Swaziland is verregaande.
Mswati word egter beskuldig daarvan dat hy menseregte in sy land misken en pro-demokrasie-aktiviste aanhou. Hy onderhou12 vroue in weelde en het ‘n persoonlike fortuin van sowat R1,3 miljard bymekaargemaak.
Die Afrika-Ontwikkelingsbank het Vrydag ‘n aansoek van Swaziland om ‘n lening van R1 miljard afgewys omdat die land nie aan die vereistes van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) voldoen nie.
Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking het die aansoek bevestig.
Die IMF het vroeër gewaarsku dat die land met sy 1,2 miljoen inwoners enige tyd finansieel in duie kan stort.
Lucky Lukhele van die Swaziland Mass Democratic Movement, wat vakbonde in Swaziland insluit, het die beoogde lening veroordeel en gesê Suid-Afrika behoort dit nie goed te keur nie.
Die beweging sê die finansiële krisis in Swaziland is ‘n regstreekse gevolg van die algehele ineenstorting van die regering.
Volgens Lukhele sal ‘n lening aan die huidige regime “net ‘n belegging in korrupsie wees”.
Bongani Masuku van Cosatu sê: “Dit is ‘n ramp wat deur ‘n paar koninklikes veroorsaak is wat die land deur die jare ondergrawe het deur spandabelrigheid, korrupsie, parasitisme en swak bestuur.”
